Tenique blink uit op krieketveld

Volgens Tenique het krietet baie gegroei en is dit nie meer 'n seuns spel nie.

“Gaan vir dit! Moet nie laat enigiemand vir jou sê jy kan nie krieket speel omdat jy ‘n meisie is nie.”

Dit is Tenique Williams, ‘n Graad 11 leerder aan Hoërskool Dr EG Jansen, wat op provinsiale vlak uitblink, se raad aan meisies wat graag krieket wil speel.

Sy het haar liefde vir krieket op 10-jarige ouderdom ontdek toe sy saam met familie vriende gespeel het.

Op daardie ouderdom het sy by die Bedfordview Krieketklub, saam met die seuns begin speel. Op 13 het sy oorgeskakel na die Avion Cricket Club, omdat hulle ‘n vroue span gehad het.

Dié talentvolle atleet het in grade agt en nege vir EG Jansen se A-span vir die seuns gespeel.

In Graad 10 is daar ‘n meisie span gestig, waarvan sy die kaptein is.

Tenique is ook al drie jaar verkies tot die Eastern Storm, wat sy as haar grootste prestasie beskou.

Die span het onlangs die Global Cricket Tournament by die Irene Country Club gewen.

“Dit is ‘n toernooi waarin drie provinsiale spanne (Lions, Titans en Easterns) teen mekaar speel, en daar is ook ‘n paar internasionale spelers in die spanne tydens die toernooi. Die toernooi was absoluut ‘amazing’, definitief een van die beste toernooie waarin ek nog ooit gespeel het.

“Die beste deel was om die geleentheid te hê om saam met verskeie internasionale spelers van Japan, Namibië en selfs Engeland te speel. Ek het baie by hulle geleer.

“Vir die Easterns om die toernooi te wen, was spesiaal, veral omdat ons ‘n Division 2-span is en die ander spanne Division 1. Dit het ons net laat besef dat ons doelwit as ‘n span om dit na Division 1 te maak, baie nader is as wat ons gedink het,” het sy bygevoeg.

Waarom is sy so passievol oor krieket?
“Krieket is my alles. Om te kolf is my gunsteling. Dit is moeilik omdat jy gefokus moet bly, anders verloor jy ‘n paaltjie,” het sy verduidelik.

Tenique kyk op na Laura Wolvaardt, wat vir die Proteas speel.

“Die manier waarop sy kolf, is net iets anders. Ek kan heeldag sit en kyk hoe sy kolf en nie moeg raak daarvoor nie. Die ervaring wat ek al gehad het om vir haar te kon boul as ‘n net bouler, was ongelooflik. Sy is so ‘n gawe persoon en plat op die aarde. Sy is net die perfekte rolmodel.”

Volgens Tenique, is krieket nie meer net ‘n seuns spel nie.

“Die spel het baie gegroei. Dit is vir enigiemand.

“My vriende en familie ondersteun my en my doelwit is om hulle trots te maak. As jy hard genoeg werk, kan jy enige iets bereik,” het Tenique verduidelik.

Tenique hoop om deel te wees van die o19 vrouespan wat Suid-Afrika in 2027 by die wêreldbeker gaan verteenwoordig. Sy erken ook haar afrigter, Adele van Eck, wie se ondersteuning sy as die rede sien waarom sy is waar sy vandag is.

Tenique blink ook uit in haar akademiese werk en fokus daarop in haar vrye tyd.

Andrew Nel, die krieketdirekteur van Hoërskool Dr EG Jansen, het sy trots uitgespreek oor Tenique.

“Sy het baie talent. Die feit dat sy al senior provinsiale krieket speel, spreek boekdele.”

Also Read: Corries deel van Boksburg se krieketspan

   

Exit mobile version