Vegters vaar uitstekend by groot kompetisie
Hierdie groep vegters het weer Carletonville se naam hoog gehou.

Vegters van die Fight St gemengde gevegskuns (MMA) klub van Carletonville het die afgelope naweek tydens ‘n groot kompetisie die klub en dorp se naam hoog gehou.
Die vegters het Saterdag aan die Versus Fight Night 9 in Pretoria deelgeneem. Senior MMA gevegte het die aand plaasgevind. Een van die klublede, Kenneth Golden, het almal op hul voete gehad toe hy ‘n opponent uit die Wes-Kaap gewen het.
Belangstellendes kon die wedstryd lewendig op YouTube volg. Jonger vegters het deur die loop van die dag tydens grappling-kompetisies hul vaardigheid getoets. Daar was 192 deelnemers, wat verseker het dat elkeen hard vir ‘n plek moes werk.
Ondanks dié hewige kompetisie het verskeie van die plaaslike vegters medaljes huis toe gebring. ‘n Verdere hoogtepunt van die dag se verrigtinge was egter die teenwoordigheid van twee van Suid-Afrika se internasionale UFC (Ultimate Fighting Championship) vegters, die huidige UFC middelgewig wêreldkampioen, Dricus du Plessis en Cameron Saaiman, wat in die UFC bantam gewig-afdeling meeding.
Dié internasionale vegters het vir die jongelinge raad uitgedeel, gesels en nie omgegee om saam vir foto’s te poseer nie.
“Hierdie was uitstekende motivering en blootstelling vir veral die jonger vegters.
“Ons klub se vegters het uitstekend presteer en ek is baie trots op hulle,” sê die klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel.
Die Carletonville vegters se volgende groot kragmeting is die Jacaranda Challenge wat op 1 Junie in Pretoria plaasvind.


