Scorpions open seisoen met strawwe wedstryde teen Alberton
Eerste span verloor naelskraap terwyl jonger spanne waardevolle ervaring opdoen
Die Scorpions rugbyklub het verlede naweek in hul eerste ligawedstryde van die seisoen gespeel. Die klub se spanne het teen Alberton uitgedraf.
Die eerste span het naelskraap met 13–15 verloor.
“Hulle het ongelooflik hard gespeel en alles ingesit,” sê die klub se woordvoerder, Joe Bosch.
Intussen moes die tweede span die knie teen hul opponent buig terwyl die o21s verloor het met die eindtelling 8–55.
“Hulle harte was reg en hulle het steeds alles ingesit tot op die einde,” sê Bosch.
Die wedstryde is op Alberton se velde gespeel.
“Dit was tawwe wedstryde, maar ons nooi steeds elke speler uit om te kom oefen en saam met ons te groei,” sê Bosch. Intussen gaan die Scorpions in hul volgende wedstryde weg meeding en teen die Union klub van Johannesburg uitdraf.




