NewsNews

Rolstoelvrou hou die strate skoon

“As elke inwoner en sakeonderneming net verantwoordelikheid vir hul eie woongebied neem, dan kan Potchefstroom ’n baie mooi en skoon stad wees.”

“As elke inwoner en sakeonderneming net verantwoordelikheid vir hul eie woongebied neem, dan kan Potchefstroom ’n baie mooi en skoon stad wees.”
So sê Sannie Niesing wat hoewel sy in ’n rolstoel is, steeds probeer om ’n verskil in haar woongebied te maak.
Sy was ongeveer vyf jaar gelede in ’n baie ernstige motorfietsongeluk wat haar verlam gelaat het.
“Ek weet ek het ’n tweede kans van ons Hemelse Vader gekry. Hy het ons met sy skepping vertrou, so ons moet mos die aarde oppas,” sê sy.
Niesing tel al die laaste vier jaar rommel op. Sy het begin om net voor haar huis skoon te maak, maar soos wat die tyd verloop het, het dié gebied al hoe groter geword. Sy tel elke dag vanaf omstreeks 16:30 rommel in Dyerstraat en al die systrate op. Volgens haar is dit hoe sy nog altyd was. Sy en haar man van 43 jaar, Dirk, het van Leeudoringstad na Potchefstroom verhuis om hier af te tree. In Leeudoringstad het sy al begin om haar eie sypaadjie skoon te hou.
Haar man het al heelwat aan haar elektriese rolstoel verander om haar skoonmakery makliker te maak.
“Ek het ‘n onafhanklike onderstel geïnstalleer, ’n groter battery, ’n krat om die vuilgoed in te hou, ’n kompressor om die wiele op te pomp en die sitplek is gemakliker gemaak,” sê Dirk.
Hy het selfs vir haar ’n tang gegee sodat dit makliker is om die rommel op te tel. Niesing se volgende projek is om die parkie voor haar huis te begin skoonmaak. Die parkie is tans ’n probleem omdat die rolstoel se wiele pap word, maar Dirk sê hy gaan vir haar iets soos ’n vierwielmotorfiets aanpas sodat sy in die parkie kan skoonmaak.
“Ek het al baie vriende gemaak vandat ek so begin skoonmaak het. Ek het eendag uit die stoel geval en toe kom help iemand my darem,” vertel sy met ’n glimlag. Dié gelowige vrou bly besig, nie net deur rommel op te tel nie, maar sy doen ook motiveringswerk by Witrand Hospitaal vir mense wat spinale beserings het.
“Ek doen dit nie om raakgesien te word nie, ek hoop net dat ek mense kan motiveer om self ook iets te doen,” vertel sy.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button