
Die Harmonie Huis wat reeds vir jare ‘n plek van veiligheid vir kinders in nood is, het die afgelope week ‘n nuwe tuiste gekry.
Volgens me. Suzette Oosthuizen van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) is dié huis reeds meer as ‘n dekade gelede in Blyvoor geopen. As gevolg van die sluiting van Blyvooruitzicht Goudmyn het toestande in dié dorp egter so agteruitgegaan dat die huis nie meer behoorlik kon funksioneer nie. ‘n Splinternuwe Harmonie Sentrum is
verlede Vrydag op die terrein van die SAVF se Deurgangshuis in Carletonville
geopen.
“Die Harmonie Huis speel so ‘n belangrike rol dat ons dit net moes laat voortbestaan. Daar is geen ander plek van veiligheid waarheen ons kinders wat deur maatskaplike werkers van hul ouers af weggeneem word, kan huisves nie. Ons kry geen hulp van die staat vir die Harmonie Huis nie. Die huis het nog al die jare net met die geld van skenkers gefunksioneer,”’ sê Oosthuizen.
Sy verduidelik dat maatskaplike werkers in die afgelope ses maande verplig was om statutêr op te tree om minstens tien kinders uit hulle ouerlike sorg te neem.
Dit is weens die ouers se dwelmafhanklikheid, seksuele misdrywe teenoor die kinders, mishandeling wat fisiese- en emosionele mishandeling insluit en gedragsmoeilike kinders wat ouers nie kan beheer nie.
Ongeveer 380 kinders wat in die SAVF kantoor se areas van dienslewering val, is tans in pleegsorg nadat dit nie meer as gevolg van sulke probleme in hulle beste belang was om aan te bly in hulle ouers se sorg nie.
“Dit gaan nie goed met die kinders in ons gemeenskap nie. Hulle is slagoffers van boelie-gedrag van grootmense en kinders, alkohol en dwelms, emosionele en fisiese mishandeling, onbetrokke ouers en groepsdruk.
Daar is tans vier kinders in die veilige sorg van Harmonie Sentrum onder Helen Neveling, die huismoeder, se liefdevolle sorg. Helen was voorheen betrokke by Jakaranda Kinderhuis,” sê Oosthuizen.
Sy het bygevoeg dat die hulp van die gemeenskap nodig is om verdere hulp aan die kinders te gee. Mense kan onder meer skenkings van gebruikte kinderklere maak, of ook pleegouers word. Mense wat meer wil weet of op een of ander wyse kinders
in die gemeenskap wil help, kan die SAVF op Carletonville by (018) 786 1016 kontak.