VANDERBIJLPARK. – Dit gaan soveel beter met Quinton Meyer, die graad 4-leerling wat verlede week byna verwurg het terwyl hy op ‘n kinderswaai gespeel het, dat hy reeds weer terug is op die skoolbanke.
Vaalweekblad het verlede week berig dat Quinton (11) op die swaai gespeel het toe sake lelik skeefgeloop en sy kop en nek in die kabels verstrengel geraak het.
Quinton kon homself nie loswikkel nie en kon ook nie asem haal nie. Hy was reeds besig om sy bewussyn te verloor toe sy sussie, Makayla (13), besef het daar was groot fout en dadelik vir Pa Nico gaan roep het om te kom help. Nico het dadelik noodbehandeling op Quinton begin toepas en vasgestel dat sy seun se hart reeds gaan staan het. Nico het mond-tot-mond-asemhalling en hartmassering toegepas totdat ER24 se paramedici oorgeneem het.
Quinton is in ‘n bewustelose toestand vanaf Mediclinic Emfuleni na ‘n Randse hospitaal oorgeplaas, waar toetse gedoen en vasgestel is dat sy brein geswel was.
Hoewel medici sy ouers verseker het dat daar geen opsigtelike tekens van breinskade was nie, kon hulle nie weet of Quinton enige nagevolge sou oorhou voordat hy eers weer sy bewussyn herwin nie. “Daardie nag 02:00 toe hy begin bykom, het ek hom dadelik verskeie vrae begin vra om vas te stel of hy normaal reageer. Hy kon al my vrae normaal beantwoord. Daar was gelukkig geen breinskade nie,” sê sy verheugde ma, Esmeralda.
Quinton kon ‘n dag later uit die hospitaal ontslaan word en is weer sy energieke self. Sy ouers bedank die ER24-paramedici wat hulle bygestaan het, sowel as almal wat na die skrikvoorval vir Quinton gebid het.