NewsNews

‘Omgeemens Ben het nie dié bloedige dood verdien’

Die Vaaldriehoekse sakegemeenskap is steeds geskok oor die wrede moord op mnr. Ben Visser (70), ‘n bekende arbeidskonsultant in die Vaaldriehoek.

VEREENIGING. – Die Vaaldriehoekse sakegemeenskap is steeds geskok oor die wrede moord op mnr. Ben Visser (70), ‘n bekende arbeidskonsultant wat talle groot sakeondernemings in die streek jare lank met dispute en verwante sake bygestaan het.

Mnr. Visser, ‘n wewenaar wat alleen gewoon het, is vermoedelik reeds Saterdag, 4 Augustus, in sy huis in Klipwagterstraat, Drie Riviere-Oos, vermoor. Sy seun, wat in Pretoria woon, het die Sondagoggend onrustig geraak toe hy mnr. Visser nie telefonies kon bereik nie. Hy het die bure geskakel en gevra om te probeer vasstel of alles pluis is by sy pa se huis. Die skokmoord op mnr. Visser het daarna aan die lig gekom.

Volgens kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisie, is daar by nadere ondersoek vasgestel dat mnr. Visser se keel afgesny of oopgekap is. Dit was duidelik dat sy huis geplunder en verskeie artikels gesteel is.

Drie verdagtes, onder wie sy tuinier, is in verband met die moord in hegtenis geneem en albei mnr. Visser se gesteelde voertuie is glo in die Heidelberg-omgewing teruggekry. Een van die verdagtes het intussen uitwysings gedoen, wat daartoe gelei het dat ‘n bebloede byl sowel as ander artikels wat aan mnr. Visser behoort het, opgespoor is.

Volgens advokaat Ansie Swanepoel, ‘n jarelange vriendin van wyle mnr. Visser, het hy sy eie onderneming as arbeidskonsultant bedryf. Hy het ‘n meestersgraad in menslike hulpbronbestuur gehad en was voorheen lank in diens van Samancor, waar hy onder meer ‘n groot rol in loononderhandelinge gespeel het.

Mense het hom na aan die hart gelê en hy was deur die jare by verskeie diensorganisasies in die Vaaldriehoek betrokke. Só was hy byvoorbeeld instrumenteel in die aankoop van die huis vanwaar Wide Horison Hospice funksioneer.

“Hy het sy vrou, Ria, verlede jaar aan die dood afgestaan. Sy was baie siek en hy het haar tot byna op die laaste self versorg. Sy kleindogter was die appel van sy oog en hy was ook erg oor sy drie langbeen-foksterriërs, wat soos kinders in sy huis was,” sê adv. Swanepoel.

“Ben was ‘n besonderse mens wat sonder skroom ‘n hand na kollegas en nuwelinge gereik het. Hy het altyd tyd gemaak vir sommer net saamkuier en het die fyner dinge in die lewe gekoester.

“Sy orrelspel was ‘n groot vreugde in sy lewe, so ook om te sit en redeneer oor die reg, die kunste en sy vertroue in ons president. In al die gesprekke wat ek en hy gehad het, het hy telkemale met groot bewondering oor pres. Cyril Ramaphosa, vir wie hy persoonlik geken het, en sy reis deur die lewe gepraat. Ben het sy tuinier met soveel geduld en respek behandel dat die man se beweerde betrokkenheid by Ben se dood een van die onverstaanbaarste dinge is,” sê sy.

Nog ‘n jarelange vriend, dr. Alan Pittendrigh, beaam dat mnr. Visser ‘n besonder aangename en vriendelike mens was wat uit sy pad sou gaan om ander te help. Hy het onder andere kitaar gespeel en saam met sy orkeste, Die Ou Ballies en Ye Olde Classics, gesing en fondsinsamelings vir die Vaal Elderly Forum, waarvan dr. Pittendrigh voorsitter was, help reël.

“Ben was ‘n omgeemens wat ek in al die jare nooit kwaad gesien het nie. Hy het nie verdien wat verlede Saterdag met hom gebeur het nie,” sê dr. Pittendrigh.

* Wyle mnr. Visser se familie kon teen Vaalweekblad se saktyd nog nie vir verdere inligting bereik word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button