Covid-19 wys sy gesig in Vaal
VANDERBIJLPARK. – Om ‘n amptelike boodskap te kry wat lees: “You have been registered by the Gauteng Department of Health as having been in contact with a known COVID-19 case. Help us contain the virus by confirming your registration details and submit daily check-ins,” laat jou skielik besef hoe werklik die gevaar is.

Dit is presies wat met ‘n plaaslike inwoner gebeur het. Haar identiteit en al die dokumente om haar ondervinding te staaf is bekend en besit van Vaalweekblad. Haar identiteit word egter weerhou.
Haar nare ondervinding het begin nadat sy op 25 Maart soos oudergewoonte die biblioteek naby Stephenson Spar besoek het.
“Op 02 April kry ek toe ‘n oproep wat vra of hulle my kan kom sien,” vertel sy. “Ek was by die werk en hulle het soontoe gekom om my koors geneem. Hulle het beskermende oorpakke, handskoene en maskers aan gehad, soos wat jy oral in die nuus sien. Dit was ‘n vreemde ondervinding.
“Hulle het verduidelik dat ek in aanraaking gekom het met ‘n persoon wat by die biblioteek werksaam is, wat positief getoets het vir Covid-19. Ek is aangesê om dadelik huis toe te gaan en myself van ander te isoleer”.
Die daaropvolgende dag (3 April) het hulle haar by haar huis besoek en verdere toetste is gedoen. Sy is gesê dat sy haar uitslag op die laaste, op 8 April sou kry.
“Vandat hulle my die eerste keer by my werk besoek het, het daar duisende gedagtes deur my kop gemaal. Ek was nog nooit so bang in my hele lewe nie, net my geloof en my familie se gebede het my deur die afgelope week gedra,” vertel sy.
“Elke oggend het ek met ‘n gebed opgestaan en dankie gesê dat my koorstoetse normal bly. Ek het positief probeer bly maar daar is altyd daai stemmetjie wat sê: wat as”.
Wat haar situasie erger gemaak het is dat sy aan asma én emfiseem ly. Sy het dus rede gehad om baie bekommerd te wees aangesien die virus juis pasiëne se longe aantas. Sy was in groot gevaar om positief te toets.
Gister (8 April) het sy die uitslag gekry – sy het negatief getoets! “Dit was wonderlike nuus. Mense wat so grootpraat en stories opmaak oor die virus sal eers besef hoe ernstig die situasie is as hulle self daardie skrikwekkende onsekerheid in die gesig staar.”
Haar raad aan ander inwoners: gee gehoor aan die inperking en beskerm jou geliefdes. ‘n “Don’t care attitude” sal vinnig verander as een van jou geliefdes positief toets of selfs net die gevaar staan om dalk positief te toets.
- Daar was reeds verskeie gerugte oor inwoners wat Covid-19 onder lede het, maar hierdie is die eerste geval wat amptelike bewyse daarvoor het.
Inwoner van Vanderbijlpark waarsku ander om Covid-19 ersntig te beskou na sy angsvolle week moes deurmaak.