NewsNews

Franse atleet toe nie die Covid-19 geval in Potch

Nog ‘n persoon in Potchefstroom het positief vir die virus getoets.

Die Franse atleet wat in Maart kort voor die inperkingsperiode positief vir die Covid-19 virus in Potchefstroom getoets het, is nie deel van die statistiek in Potchefstroom nie. Dié atleet het voor die inperkingsperiode op 24 Maart teruggevlieg Frankryk toe.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die Noordwes departement van gesondheid, het gister in ‘n verklaring aan die Herald bevestig dat ‘n fout ingesluip het en dat nog ‘n persoon in Potchefstroom positief vir die virus getoets het.

Lekgethwane het gister vrae hieroor beantwoord nadat die Herald inligting bekom het van ‘n gesondheidspraktisyn wat ‘n oorsese atleet behandel het en so die virus opgedoen het.

Volgens ‘n betroubare bron was die atleet, wat die virus aan die praktisyn oorgedra het, nie die Franse atleet nie.

Die bron het ook bevestig dat almal waarmee die gesondheidspraktisyn in kontak was, reeds gekontak is.

Die Herald het die gesondheidspraktisyn om kommentaar genader, maar die persoon wou nie met die Herald praat nie.

Volgens die nuutste statistiek is daar nou 15 bevestigde gevalle in die Noordwes Provinsie: Bloemhof (1), Mahikeng (2), Potchefstroom (1), Klerksdorp (2), Rustenburg (7) en Hartebeespoort/Brits (2).

Vroeër die week was daar ook onsekerheid oor die kwarantynregulasies in die Noordwes. City Press en die webwerf van die South African Government News Agency het berig dat die departement van gesondheid in die Noordwes voortaan alle Covid-19 pasiënte en die persone waarmee hulle in kontak was, onder hulle toesig gaan plaas.

Lekgwetwane het egter die onsekerheid uit die weg geruim en gesê dat selfkwarantyn in die Noodwes steeds toegelaat word, maar dat mense wat die wet oortree, by staatsinstansies in kwarantyn geplaas sal word. Hy het verwys na ‘n persoon in Bloemhof wat positief getoets is, wat nie by haar huis opgespoor kon word nie en later op ‘n plaas naby Welkom vasgetrek is. In ‘n ander geval het ‘n persoon wat in Rustenburg positief getoets is, ook na Mahikeng gereis.

Volgens Madoda Sambatha, lid van Noordwes gesondheid se uitvoerende komitee, is die Bloemhof-pasiënt ook dadelik onder die sorg van die departement geplaas. “Ons moet ten alle tye weet waar pasiënte van Covid-19 is, asook die mense waarmee hulle in kontak was om te voorkom dat die virus verder versprei word,” het Sambatha gesê.

{

Related Articles

Back to top button