
‘n Potchefstroomse onderwysstudent het besluit om haar sangtalent ten toon te stel in die bekende Maak My Famous talentkompetisie wat eersdaags op kykNET gesien kan word.
Elizma van Heerden, ‘n 4de jaar onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit, is vanjaar die enigste Potchefstromer wat vir die Top 48 gekies is.
Van Heerden is een van die gelukkige deelnemers wat uit meer as 8 000 inskrywings gekies is.
Sy gaan in die spesialiteitsafdeling as ‘n operasangeres deelneem. Ander kategorieë sluit kletsrym, groepsang en individuele sang (dames en mans) in. Emo Adams bied die program saam met Tarryn Lamb aan.
Volgens Van Heerden het sy nie eers van die Maak My Famous-kompetisie geweet nie, aangesien sy nie DStv het nie.
“’n Tannie het my op Facebook daarvan ingelig en toe besluit ek om in te skryf. Ek het ‘n video op Youtube gelaai en die res is geskiedenis. Ek is so bly om al so ver in die kompetisie te kan kom,” sê sy.
Van Heerden het al van jongs af ‘n aanvoeling vir opera gehad en het ‘n liefde daarvoor ontwikkel toe sy Habanera uit die operette, Carmen gehoor het.
“Ek het van graad 6 af doelgerig en hard saam my sangafrigter gewerk.
Dit het my so twee jaar geneem om my stem te ontwikkel, maar vir elke persoon is dit anders.
Die lekkerste van opera is om dit voor mense te sing en op te voer terwyl dit nogal uitdagend kan wees om die woorde in ander tale te leer, aangesien opera nie regtig in Engels of Afrikaans gesing word nie,” meen Van Heerden, wie se gunsteling opera aria Nessun Dorma, is.
Van Heerden, wat oorspronklik van Ellisras is, noem dat sy graag mense wil inspireer om hulle drome te volg.
“Ek wil mense motiveer om te doen wat hulle liefhet. Ek sal graag ‘n lewe van sang wil maak en hierdie is vir my ‘n groot geleentheid.”
Skakel op 29 April om 20:00 op kykNET, DStv kanaal 144 en om 21:00 op kykNET &Kie, DStv kanaal 145 in om die aksie dop te hou!
Hier is haar oudisie-video