NewsNews

Is videospeletjies die toekoms van kompeterende sport?

Is videospeletjies die toekoms van kompeterende sport?

Sport soos ons dit ken, sal vir nou eers op die agtersitplek gelos moet word weens die Covid-19 pandemie, aangesien fisiese kontak en die samekoms van groot groepe mense kernaspekte van sport is.

Sportgeesdriftiges mag dalk tans bedroef voel, maar daar is wel ‘n alternatiewe oplossing in die tegnologiese era waarin ons leef.

E-sports mag dalk vir baie mense, wat nie gewoond is aan videospeletjies nie, nogal volksvreemd voel, maar vir die nuwe generasie is dit iets wat heel normaal voorkom. ‘n Mens kan e-sport amper sien as jou tipiese LAN-partytjie, net baie groter, belangriker en professioneel gestruktureer. Plus, mense kan ‘n lewe daarvan maak en as jy baie goed is, tot miljoeners word.

Jacques Myburgh is ‘n plaaslike student aan die NWU wat B.Sc IT studeer en ‘n massiewe aanhanger van e-sports is. Hy glo dat hy eendag ‘n lewe daarvan kan maak en selfs sy land in ‘n Olimpiese Spele kan verteenwoordig, indien dit eendag ‘n Olimpiese sportsoort word. As ‘n mens tans kyk na die impak van die koronavirus en hoe baie ons lewens verander het, kan e-sports juis ‘n nuwe metode van ontspanning en kompetisie wees.

“Ek dink die rede waarom die aanvraag na e-sports by universiteitsport oor ‘n kort tydperk so groot geword het, is omdat dit so nuut en opwindend is. Ek glo meeste van ons wat tans aan ‘n instansie studeer, het as kinders op een of ander wyse te doen gehad met rekenaarspeletjies, ‘n vorm van Playstation of X-Box games,” noem Myburgh.

Volgens Myburgh het die realistiese grafika en ontwerp van sportspeletjies ook die aantreklikheid van e-sports vergroot.

“Natuurlik het speletjies met verloop van tyd uiters realisties geword, en dit dra sterk by tot die gevoel van opwinding.”

Nog ‘n aspek van e-sports wat mense nader trek, is die gevoel van kompeterende aksie en samesyn (twee kernaspekte van gewone sportsoorte).

“Soos met enige sport, is daar ook ‘n groot mate van kompetisie daaraan verbonde. As kind wou mens altyd wen of die hoogste telling in ‘n speletjie behaal, vir sogenaamde bragging rights teen jou vriende. Dit is wat e-sports so interessant maak – dit bied vir studente die geleentheid om die universiteit te verteenwoordig vir iets wat nog altyd gesien is as tydmors volgens die ouer generasie.

Hoeveel van ons ouers het nie al vir ons gesê ons moet ophou games speel nie, want dit gaan ons nêrens bring nie? Vandag verdien 16-jariges miljoene dollars in e-sports,” verduidelik Myburgh.

Hierdie entoesiastiese plaaslike e-sports deelnemer noem dat daar beide positiewe en negatiewe aspekte van e-sports is.

“Dis ‘n kompeterende sport wat steeds ‘n mate van ontspanning onder die studente bewerkstellig. Dis ‘n uitstekende vorm van interaksie met studente van ander universiteite. Vir studente wat nie aan ‘n fisiese sport kan deelneem nie, is dit ‘n deurbraak, nie net op sportvlak nie, maar ook op sosiale gebied,” sê Myburgh.

Aan die ander kant is e-sports duur om te beoefen en mense kan in ‘n virtuele wêreld vasgevang word waar hul van die realiteit vergeet.

“Om kompeterend te kan deelneem het mens die regte toerusting en ‘n goeie netwerkkonneksie nodig. Dit kan ‘n mens heelwat uit die sak jaag, veral vir PC gamers wat gereeld nuwe hardeware moet koop om by te bly met die nuutste tegnologie.

Soms kan spelers te geheg raak aan games en vergeet dat daar ‘n wêreld daar buite ook is. Hulle kan sogenaamde caveman syndrome ontwikkel en fisiese aktiwiteite heeltemal agterlaat. Dit is belangrik om ‘n balans te handhaaf,” meen Myburgh.

“In ons huidige omstandighede waar dit onmoontlik is om sosiale interaksie te hê met vriende, speel e-sport ‘n kritieke rol vir ons om kontak te hou met mekaar en gereeld saam te speel teen ander spanne. Dit verlig die gevoel van spanning in hierdie onsekere tye en dit bring werklik mense bymekaar. Uit my eie ervaring kan ek sê dat gamers van die interessantste maar tog vriendelikste sportmense is waarmee ek al te doen gekry het,” voer hy aan. Daar word ook beraam dat e-sports teen 2021 wêreldwyd kykersgetalle van sowat 557 miljoen  sal hê.

‘n Ander interessante statistiek is die aantal mense wat van e-sports bewus is en hoe dit die afgelope vyfjaar toegeneem het. In 2015 was daar ‘n geraamde 800 000 mense, nou trek die syfer al oor die 1.5 biljoen.

‘n Merkwaardige feit is dat die professionele e-sport speler, Johan Sundstein van Denemarke, reeds 6.9 miljoen dollar uit e-sports verdien het.

Sekere groot sportsoorte soos Formule Een het ook die e-sports mark betrek met wedrenne wat aanlyn deur middel van die videopeletjie F1 2019 voltooi is – op die dag wat ‘n wedren sou plaasvind. In hierdie virtuele wedren kompeteer F1 renjaer, e-sport spelers en ander bekendes teen mekaar in ‘n sosiale byeenkoms wat wyd en syd gekyk word – ja dit is nie presies dieselfde as enjins wat skree en bande wat teen die teerpad skuur nie, maar vir nou is dit die beste alternatiewe opsie.

Miskien kan ons eendag deur middel van ‘n rugbyspeletjie ‘n Classic Clash speel tussen Gimmies en Volkies?

Dertig deelnemers en een span wen dan die stryd vir hulle skool. Mense wat kyk en kommentaar lewer op hulle rekenaars?

Die realiteit is dalk nader as wat ons dink.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button