CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Kaalvoet troue onder ‘n boom

Covid-19 en die gepaardgande inperkingstyd het baie planne omvergewerp en lang beplande gebeurtenisse afgestel. Alles het ook so vinnig gebeur, die een dag het mens net gehoor van die nuwe virus in China en toe ons weer oë uitvee toe was bladskud iets van die verlede en is algehele inperking aangekondig.

Wiehan en Marna Swanepoel beloof trou aanmekaar. Nico Van As het die seremonie waargeneem.

Wiehan Swanepoel en Marna Herbst het besef hulle moes vinnig plan sien toe hierdie inperkings net meer as twee weke voor hul beplande troue ingeskop het. Wiehan se ouers bly nog in Sasolburg en hy het hier groot geword. Die plan was om op 4 April 2020 in die dorp te trou, maar op Woensdag, 18 Maart is die strenger maatreëls aangekondig en die grendelstaat het ‘n week verder gewag…

Dis toe dat die twee besluit het, waar ‘n wil is ‘n weg, en is daar ‘n troue gereël binne drie dae. Slegs hul gesinne en Nico van As van Kompas gemeente se gesin kon die “nuwe” troue op 21 Maart bywoon. Nico het die diens waargeneem en die Van As dogtertjies was die blommemeisies.

Wiehan sê: “Toe ons die Vrydagmiddag pak om Sasolburg toe te vertrek, het ons twee stelle klere gepak en elk ‘n paar plakkies. Marna se rok, wat haar ma gemaak het, was nog nie klaar nie en ons was reg om mall toe te gaan om vir haar n rok te gaan soek (die Satergoggend voor ons 3 uur trou). Satergoggend het Marna se ma gebel en gesê sy het tot in die nanag aan haar rok gewerk en dat sy die rok saambring vir ons troue. Die rok was aan Marna se lyf klaargemaak en ons het kaalvoet getrou!”

Wiehan en sy pa het die Saterdagoggend ‘n boom gaan soek in Eco Park waaronder die seremonie gehou kon word. Later het hulle die “kerk” gaan opstel wat bestaan het uit kampstoele en ‘n gedekte tafel met soortgelyke dekor (te danke aan sy ma en sussie) as wat hulle oorspronklik wou gebruik.

Sy pa het ook ingestaan as fotograaf. Wiehan sê al die gaste het tegelyk opgedaag, met Marna en haar pa so bietjie laat. Sy het deur die veld na hom aangestap gekom op maat van Riana Nel se “Jy sal weet”.  Nico van As het toe ‘n informele diens gelei en daarna is die wetlike aspekte afgehandel.

Die grendelstaat het hul wittebroodsplanne op ys gesit, toe kamp hul maar op die stoep.

Soos enige ander pasgetroude paartjie is daar eers foto’s geneem alvorens ‘n naderende reënbui die fotosessie kortgeknip het en almal hul na die venue gehaas het. Die venue was Wiehan se ouers se stoep waar ‘n bruidstafel, met eetgoed en ‘n vreeslike groot troukoek vir hul gewag het. Die troukoek is ook die aand voor die tyd deur Marna-hulle se huisvriende gebak. Die huweliksvieringe is afgesluit met ‘n braai.  “Die onthaal was baie lekker en na die troue het ons besluit dat hierdie tipe troue dalk meer eg aan ons was as wat ons oorspronklike plan ooit sou wees,” het Wiehan in ‘n elektroniese onderhoud verklaar.

Aanvanklik het hul gedink om steeds op die beplande tydstip op wittebrood te gaan, maar die grendelstaat het sulke planne van die baan gestuur. Hulle planne is vir eers op ys gestel, maar intussen het hulle op 4 April (hul oorspronklike huweliksdag) op hul stoep in Pretoria tent opgeslaan en ‘n kampvuurtjie aan die gang gehou.

Wiehan is ‘n hidrogeoloog en Marna is ‘n toerisme dosent by ‘n privaat kollege. Die twee het as eerstejaars op universiteit in ‘n geografie klas ontmoet, maar het eers vyf jaar later begin uitgaan. Alhoewel die grendelstaat hul planne kom deurmekaar krap het, is hul tog dankbaar dat hulle nou langer tyd saam kon spandeer. Wiehan het laat weet: “Voor die grendelstaat was elke naweek dol, ek reis baie vir werk, en ons het gevoel dat ons mekaar redelik misloop al spandeer ons tog “baie tyd” saam. Die grendelstaat is so ver vir ons n positiewe ervaring, want nie veel paartjies het ‘n maand (selfs meer) lank n wittebrood nie, al is dit tuis.”

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Kaalvoet troue onder ‘n boom

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button