Drie breinoperasies en 22 jaar later
Johan en Litha-Mari Erasmus is albei verbonde aan die Eureka Skool in Vereeniging. Die egpaar het twee tienerseuns. Nie Johan of Litha-Mari het oorspronklik daaraan gedink om in remediërende onderwys te spesialiseer nie.
Spesiale onderwys het jare terug beide se lewenspaadjies gekruis en nou kan hulle hul nie die lewe in ‘n ‘gewone’ skool indink nie.
Alles was nie altyd maklik vir die egpaar wat op 4 April hul 22ste huweliksherdenking gevier het nie. In die eerste maande na hul troudag het Litha-Mari teen ‘n siekte baklei wat gedreig het om haar met breindskade of verlamming te laat.
“Ons het in Augustus 1997 by die teater tydens ‘n opvoering van Giselle ontmoet en het op 1 Desember verloof geraak,” vertel Litha-Mari. Ongelukkig het sy ook sedert die middel van 1997 met hoofpyne begin sukkel. Sy het aanhoudende pyn verduur en geen pil of inspuiting wou help nie.
Litha-Mari is na ‘n neurochirurg verwys en het ‘n breinskandering ondergaan. Die spesialis het bevestig daar was fout, maar hy het nie geweet wat dit was nie. Hy het kortisoon voorgeskryf, tot 24 pilletjies per dag.
Te midde van al die toetse en hoofpyne is Litha-Mari en Johan getroud. Die hoofpyne het erger geword en van al die kortisoon het sy baie gewig aangesit.
Die spesialis het besluit om ‘n lumbale punksie te doen. Litha-Mari onthou hoe een van die seuntjies by die skool waar sy toe onderwys gegee het, vir haar gesê het: “Juffrou moenie bang wees nie.” Nadat die lumbale punksie ook nie enige definitiewe resultate gelewer het nie, het die spesialis besluit om ‘n breinoperasie te doen. “You might get brain damage,” het hy vooraf gewaarsku. Daar was ook ‘n kans van verlamming aan haar regterkant omdat die biopsie links voor sou plaasvind.
“Ons was op pad Sandton toe vir die operasie en ek onthou ek het gevra, wanneer sal die son weer eendag vir my skyn?” Daardie nag het sy in ‘n visioen gehoor die Here sê: “Jy sal gesond word.”
Na die operasie het sy in die waakeenheid wakker geword en ‘n angsaanval gehad. Die spesialis kon uiteindelik bevestig dat sy nie ‘n breingewas gehad het nie, maar hy het steeds nie geweet wat dit was nie.
In die komende maande het haar gesondheid fisies en psigies agteruitgegaan, tot so ‘n mate dat ‘n dokter vir haar gesê het sy sal nooit weer normaal kan optree nie. In die tyd is sy ook vir twee weke se slaapterapie in die hospitaal openeem. Van daardie tydperk kan sy niks onthou nie.
Sy moes kort-kort vir ‘n MRI-skandering gaan, want die kol op haar brein was maar altyd daar. In die tweede helfte van 1998 het ‘n neuroloog gesê sy is 95% seker dit moet ‘n breingewas wees en haar weer na ‘n neurochirurg gestuur. Op 4 Desember 1998 is die tweede brein biopsie gedoen. Weer was die uitslag dieselfde. Dis nie ‘n breingewas nie, maar wat dit is, weet hulle nie.
Litha-Mari sê die neuroloog het al die skanderings en uitslae na ‘n groep neuroloë in Durban gestuur vir hul opinie. Die spesialiste se raad was, begin met bestraling of doen ‘n oop biopsie. Die neurochirurg het op opsie twee besluit. Op 3 Februarie 1999 is sy vir ‘n derde breinoperasie hospitaal toe. Die keer was die sny heelwat langer, maar die uitslag was bemoedigend. Die spesialis het steeds nie geweet wat dit was nie, maar kon sien dat dit besig was om gesond te word.
Dit was goeie nuus vir Litha-Mari wat in daardie stadium al tot 32 kortisoon pille per dag moes drink. Die lang proses het begin om die kortisooon uit haar sisteem te onttrek. Teen Mei 1998 het sy die laaste van die kortisoon gedrink en kon sy weer aangaan en die ekstra gewig verloor. Tot vandag toe is sy nie seker wat dit was nie. Sy weet haar geval is deur ‘n groep neuroloë bespreek, maar hul kon nie uitsluitsel kry nie. Daar was bespiegelinge dat dit Schilder’s Siekte kon wees, maar dit is nooit bevestig nie. Self het Litha-Mari nog nooit die moontlikheid verder ondersoek nie.
Sy glo sy is genees. Einde 2004 het ‘n hoofpyn haar genoop om weer vir ‘n breinskandering te gaan. “Ons sien niks, maar dit kan terugkom,” was die onrusbarende antwoord. Haar neuroloog het haar aangesê om te ontspan en eers met vakansie te gaan. Hulle is Badplaas toe, maar Litha-Mari was baie gestres en kon glad nie die vakansie geniet nie. “Die Here het dan gesê ek sal gesond word en nou sê die dokters dit kan terugkom…” het oor en oor deur haar kop gemaal. Eindelaas is hulle Barberton toe om vir haar kalmeerpille te kry. Dit was in dié dorpie wat ‘n boodskap, geskryf teen ‘n algemene handelaar se muur, vir haar ‘n omwenteling gebring het. “Gaan in vrede, jou geloof het jou gered.”
Dit is ‘n sin uit Markus 5:34 uit die Bybel. Sy het die hoofstuk gaan lees en Markus 5:41 het haar aangegryp. “Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talita, koemi! Wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou staan op!” (Die Bybel, Hersiene 1953 Vertaling). Nie net vertel die hoofstuk hoe Jesus ‘n kind wat dood was lewend gemaak het nie, Litha-Mari is vernoem na haar ouma wie se name so reg uit die Bybel gehaal is, Maria Talitha Kumi Krogh. “Die oomblik toe ek die verse weer lees, het dit het vir my vrede en kalmte gebring. ‘n Bevestiging dat ek gesond was.”
Vandag is sy gesond, beskryf sy haar man, Johan, steeds as die ‘engel’ wat haar deur daardie moeilike tyd gedra het, geniet sy haar musiek, haar werk en die tye saam met hul twee seuns, Jan-Albert en Johann. Die dokter se uitsprake en die siekte sonder naam kon haar toe nie onderkry nie.
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: