“Covid-19 eis Pastoor Johan se liggaam, maar sy siel is vry”
“My liefde van my lewe het sy laaste asem uitgeblaas, hy was ‘n vegter tot op die einde. Ons troos is dat hy nou by Jesus is, maar die seer en die verlies van my man, pappa en oupa is onbeskryflik groot,” – Karin van Tonder Lesers wat nie die pastoor-egpaar, Johan en Karin van …
“My liefde van my lewe het sy laaste asem uitgeblaas, hy was ‘n vegter tot op die einde. Ons troos is dat hy nou by Jesus is, maar die seer en die verlies van my man, pappa en oupa is onbeskryflik groot,” – Karin van Tonder
Lesers wat nie die pastoor-egpaar, Johan en Karin van Tonder, geken het nie, het op 7 Augustus op sosiale media van hulle kennis geneem toe Pastoor Karin ‘n hartroerende gebedsversoek op Facebook geplaas het. Dit was nadat haar man met Covid-19 gediagnoseer is. Pastoor Johan het ongelukkig sy stryd teen die siekte verloor, maar hy leef voort in die harte van sy gesin en in dié van baie mense op wie se lewens hy ‘n onvergeetlike indruk gelaat het. Karin vertel hier onder meer oor die hartseer gebeure van die afgelope 10 dae. Haar boodskap op 7 Augustus het gelui: Ek vra asb gebed vir onsself. My man, past. Johan (van Tonder) is Covid-positief. Dit gaan nie goed met hom nie. Dit is in sy longe en hy is baie siek van 2 uur vanoggend af. Hy sukkel om asem te kry. Asb bid saam dat die Here vir hom asem gee. Dankie en groetnis, past. Karin van Tonder.
Lees haar volledige vertelling hier onder.
Past. Karin van Tonder skryf: Baie dankie vir die voorreg om my man se storie met Vaalweekblad se lesers te deel. Ek glo ongeag wat ook al, dat die Here altyd alles ten goede sal laat meewerk vir die wat op hom vertrou. Daarom glo ek al is dit ook hoe rou en seer, dat uit my man se dood daar ook ‘n getuienis sal wees. Alles wat gebeur in ons lewe is tot eer en verheerliking van God se Koningkryk. Johan is 17 Januarie 1971 in Sasolburg gebore. Hy het ook sy skoolloopbaan daar voltooi. Hy was in Laerskool A.J.Jacobs en daarna het hy sy hoërskoolloopbaan voltooi aan HTS Sasolburg. Ons het mekaar ontmoet toe Johan in sy matriekjaar was. Ek onthou dit nog soos gister. Ons het net van die plaas af ingetrek dorp toe, en soos ‘n plaasjapie wou ek geld maak en het perskes by ons huis se draad verkoop. Sy vriend Floris het by my perskes gekoop. Dit was nie lank nie of hy het vir Johan saamgebring om te kom gesels en kastig nog perskes te koop. Daar was ‘n onmiddellike konneksie gewees. Ons was verlief en verlore. Ons het net geweet dat ons weet ons is vir mekaar bedoel. Ons is op 29 Julie 1989 getroud. Saam het ons maar swaar sakke sout opgeëet en deur diep waters gegaan. Ons het 3 pratige seuns, van wie ons oudste seun, Willem ook saam met ons in die bediening is, en ook by die Be Remarkable Warrior program vir jong seuns betrokke is. Ons middelste seun Shaun is getroud met ‘n pragtige vrou en ons het ‘n kleindogter van 3 jaar oud. Dan het ons vir Jozua . Hy is ons laatlam. Hy is nou in Graad 11 in Hoërskool Vanderbijlpark. My man, Johan, het soveel goeie eienskappe en kwaliteite gehad. Hy was ‘n man met wyse woorde en die wêreld se geduld. Hy het nooit ‘n grimmige woord te sê gehad vir enige iemand nie. As ek my oë toemaak dan sien ek sy mooiste glimlag, en hy het altyd hierdie mooi lagplooitjies rondom sy oë gehad. Dit was vir my so lekker om na hom te staar wanneer hy nie kyk nie, want hy was vir my die mooiste, aantreklikste man. Hy het my, ons harte altyd so bly gemaak. Ons lewe is een groot getuienis. Ons het maar altwee ‘n draai in die wêreld geloop. Baie foute gemaak en duur lesse geleer. Ons het maar altwee diep in die bottel gekyk. Johan het 2 jaar voordat ek opgehou het om te drink, sy hart en sy lewe vir die Here gegee. Hy het sy drank neergesit en net nooit weer gedrink nie. Sy lewe het heeltemal omgedraai en hy het die Here begin dien met ‘n passie en ‘n liefde. Twee jaar na sy bekering het ek wonderbaarlik deur God se genade en my man se gebede tot bekering gekom. Johan het nooit opgegee op my nie, en ook nie die Here nie. Ons het saam die Here met ‘n vurige passie begin dien. Uitverkoop om vir Jesus te Lewe. Die Here het vir ons groot planne gehad en so het dit dan ook gekom dat ons beide, Johan en ek, geleer het vir pastore. Ons het deur Jesus the Healer Ministry geleer, en ons val ook nou onder Immanuel University of Theology. Johan en ek is albei as pastore georden. Ek het ook my Bachelor of Theology (BTh), en is tans besig met my Meestersgraad. Ons is ook beide geregistreer by die South African Christian Religious Council. Ons bediening se naam is Diensbaar Bedieninge. Dit het bestaan uit ‘n visie wat die Here vir ons gegee het. (Kyk gerus op Face Book, onder Diensbaar Bedieninge.) Ons is al vanaf 2017 besig met die werk van die Here. Alhoewel Johan gewerk het (by ‘n konstruksiemaatskappy wat werk vir Mittal doen), het hy na ure en naweke saam met my bedien. Johan het nooit gekla as ons moes gaan om iemand te bedien nie. Dit maak nie saak watter tyd van die dag of nag nie, hy het altyd ‘n bereidwillige hart gehad om ander mense te help. Hy was my steunpilaar en het altyd my rug toegemaak in gebed.Ons het mekaar aangevul en hy het ‘n absolute geestelike autoriteit gehad. ‘n Man met gesag. Die Here het ons evangelies op die veld gebruik, om die stukkende, gebroke mense in gebed en deur berading en bemoediging weer op te lig en nuwe hoop te gee. Ons het baie uitgaan-bediening gedoen en ook by konferensies bedien. Ons passie is om die Here te dien. Johan was ‘n hardwerkende man met ‘n hart van goud. Hy het altyd die ekstra myl geloop om te help. Sy siekte en sterfte was vir ons almal ‘n groot skok gewees. Hy het die 26ste Julie gekla hy voel bietjie grieperig. Ek het vir hom grieppille gegee en so is hy weer die Maandagoggend werk toe. Maandagaand toe hy van die werk af kom, was hy baie siek. Hy het koors gehad, sy oë het soos bloed binnekant gelyk en sy lyf was baie seer. Op die 28ste Julie het ek hom dokter toe gevat en die dokter het hom medikasie gegee en ‘n brief om hom te laat toets. Ons het regtig gedink dat dit maar net ‘n normale griep was wat weer sou oorgaan. Die dokter het ook gesê omdat hy so siek is, moet Johan hom isoleer totdat hy die toets gedoen het. So het ek my intrek in die sitkamer gevat sodat ek hom in die kamer kon isoleer. Dit was vir ons baie hartseer, want die volgende dag, op die 29ste Julie, was dit ons huweliksherdenking en ons was toe 31 jaar getroud. Ons kon nie eens saam sit en eet nie, want hy was onder isolasie en baie koorsig. Ons het die nodige maatreëls gevolg dat as ek by hom ingaan, ek ‘n masker aanhet, ontsmet en hande was. Op die 1ste Augustus het ek my Bachelor-graad gekry en hy kon nie saamgaan nie want hy was siek en onder isolasie. Dit was nie vir hom lekker om by die huis te bly nie, maar hy het nie ‘n keuse gehad nie. Johan het dan ook op die 1ste Augustus 8:00 die oggend gegaan vir sy Covid 19 toets. Hy het daardie oggend begin kla dat hy benoud voel en hoes. Ons het vir hom medikasie gekry en ek het vir hom ‘n asmapompie gegee. Op die 3de Augustus het sy toets positief teruggekom. Ons het vir hom ‘n bottel suurstof gaan haal, wat sy moeder vir hom gekry het, sodat dit hom kon help om genoeg suurstof te kry. Op die 4 e Augustus het die dokter vir hom nog medikasie bygegge en druppels waarmee ek hom genebulize het. Op die 6de Augustus het hy vir my baie beter gelyk, so asof hy gesond begin word. Hy het geëet en het sommer kleur gehad in sy gesig. Ek het nog met hom gesels en vir hom gevra: ”My liefie, as jy nou gesond is, wat sal jy graag wil doen? Hy het my geantwoord, om nog nader aan die Here te lewe.” Net na 2 uur in die oggendure op die 7de Augustus het hy my geroep. Hy het gevra dat ek en Wilem vir hom moet kom bid, want hy het net skielik baie agteruit gegaan. Alles in my het geruk, want hy het baie sleg gelyk. Ek het onmiddellik vir hom medikasie gegee, vir hom gebid en hom gesalf. Johan het toe kalmer geword, maar hy het vir my gesê dat hy kan nie sien nie. Sy sig was weg, al wat hy kon sien was ‘n blur. Johan wou nie graag hospitaal toe gegaan het nie. Hy wou by die huis bly, want hy het geglo dat hy sal gesond word. Ek het vir hom gevra: “My liefde, wat wil jy hê moet ek doen”, en hy het ingestem dat ek hom kan vat. My oudste seun, Willem het my gehelp dat ons hom kar toe lei, en gehelp om in die kar te klim. Omdat hy swak was, het dit hom baie uitgeput. Ons het by Kopanong-hospitaal gekom, waar hulle hom gehelp het, drip opgesit het en medikasie begin gee het. Hulle het hom opgeneem en ons het hom weer in die kar gesit en omgery na die Covid-saal toe. Hulle het met ons aankoms gehelp om hom uit die kar te kry. Ons kon saamloop tot by die deur omdat daar streng regulasies is as gevolg van die virus. Ek het nog vir hom geroep “ek is lief vir jou my engel”, en hy het sy hand effens opgelig. Hulle het hom begin behandel en na omtrent ‘n uur vir ons kom sê dat hy oorgeplaas gaan word Sebokeng Hospitaal toe, waar hulle hom op ‘n masjien sou koppel om hom te help asemhaal. My seun en ek het buite in die kar gewag sodat ons agter hulle kon aanry Sebokeng toe. Ek wou nie my man net so daar los nie. In die omgewing van net so voor 17:00 het die ambulans gekom. Ek het buitekant gestaan en wag sodat my man my kon sien en weet ek ry agterna, maar die tyd het begin stap en ek kon van buite af hoor dat daar iets nie lekker was nie. Ek het vir my kind gesê dat daar is fout, dis Pappa. Die dokter het uitgekom en vir ons gesê dat hulle alles probeer het om sy lewe te red, maar die liggaam was te swak en die tekort aan suurstof te groot. Die oomblik toe hulle hom wou ophelp om op die trollie te klim, het hy inmekaargesak. My liefde van my lewe het sy laaste asem uitgeblaas, hy was ‘n vegter tot op die einde. Ons troos is dat hy nou by Jesus is, maar die seer en die verlies van my man, pappa en oupa is onbeskryflik groot. Johan en ek het soveel drome gehad om vir die Here te werk. Ons het nog altyd hierdie diepe begeerte gehad om, as dit in die wil van die Here is, ons eie gemeente te begin, ‘n vaste gebou van samekoms. Ons wou nog so graag ‘n huis koop en vakansie gaan hou. Maar ek weet dat Johan nie graag met ons sal wil plekke ruil nie. Hy het sy wens gekry, hy is nou by Jesus. Die vraag is, wat gaan ek nou doen. Een ding is seker, ek sal die werk van die Here doen vir solank as ek lewe. Johan sal altyd in ons harte wees en deel van Diensbaar Bedieninge. Sy legende sal voortleef in mense se harte. Die impak wat hy op mense se lewens gehad het, sal vir altyd bly. * By die aankondinging van sy afsterwe op 7 Augustus, skryf pastoor Karin dié mooi boodskap: My liefde, jou stem het stil geword hier op aarde, maar daar by Jesus juig jy in jou verheerlikte liggaam. Covid 19 het dalk jou liggaam gesteel, maar jou siel is vry, uitverkoop vir Jesus. My liefde jy het ń groot impak gemaak op baie mense se lewens en jou stil sagte glimlag sal altyd onthou word. Tot ons mekaar eendag weer sien, daar bo in die Hemelse Kanaan. Jou afsterwe word diep betreur deur ons almal wat agter gebly het, maar ons weet dat jy nie met ons sou wou plekke ruil nie. Ons troos is dat ons weet jou saak was reg met Jesus en jou nuwe woning is vir altyd by Hom. Ons is vir ewig lief vir jou my engel.
- Vaalweekblad verneem dat Pastoor Johan nie ‘n pensioen of voorsieningsfonds by sy werk gehad het nie. Sy salaris val nou weg en Pastoor Karin het geen verdere inkomste nie. Sy glo die Here sal voorsien sodat sy hul bediening kan voortsit. As iemand wel ‘n geldelike bydrae wil maak, sal dit baie waardeer word en kan dit inbetaal word in dié rekening:
Mev J C van Tonder Capitec Spaar rek. Rek no:1363779212 Tak kode: 470010 Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: https://vaalweekblad.com/70690/covid-19-eis-pastoor-johan-se-liggaam-maar-sy-siel-is-vry/