BlogsNewsNewsOpinions

Ek moes Covid-19 in my kop baklei. Ek het gewen.

Om in 'n hospitaal te beland oor Covid-19 komplikasies was 'n traumatiese ervaring. Ek het gewonder of ek die artikel sal skryf al dan nie en uiteindelik besluit ek moet. Die mense wat dit moet lees, sal dit wel lees.

Ek het in Julie in ‘n Covid-19 intensiewe sorgeenheid beland.

Ligte griepsimptome het vinnig omgesit in longontsteking. Van die eerste dag onthou ek nie veel nie.

Net die lawaai van die monitors waaraan elke pasiënt gekoppel was.

Weet jy hoe voel dit om totaal afhanklik van ander mense te wees?

Om in ‘n hospitaalbed op jou maag te lê, met ‘n suurstofmasker wat om jou kop klem?

Om nie te weet of jou ouers ok is nie?

Dit het gevoel of die wêreld gekrimp het tot net daardie eenheid.

Dit was net ek op daardie bed.

Rondom my het mense in blou en geel beskermde klere met dubbel maskers gekom en gegaan.

Daar was nagte wat dokters asof vanuit die niet verskyn het om te probeer om pasiënte se harte weer aan die klop te kry. Tervergeefs.

Ek onthou hoe ek een nag gewonder het of ek die nag gaan oorleef.

Ek het besluit om een oog oop te maak en te kyk wie is gestuur om my te kom haal.

Vir ‘n oomblik het ek regtig verwag om my man, my tannie Kittie of Ouma Bessie daar te sien staan.

Almal lankal reeds oorlede. Nie een van die drie het hul verskyning gemaak nie.

In daardie oomblik het ek bewus geword dat daar baie mense aan my dink en wil hê ek moet gesond word.

Ek het daar en dan besluit, ek gaan daar uitkom. Lewendig.

Een van die blou en geel gekledes het weer langs my bed  verskyn.

Ek het by haar gepleit om net bietjie op my sy te kan draai.

Haar antwoord het my hoop gegee: “Sweetie, tonight you are my baby. I will do anything to help you.”

Die volgende oggend het die spesialis gesê: “Your lung collapsed. It was missing, but it’s back. You are our star patient.”

Ek was ongeduldig om huis toe te gaan, bekommerd oor my ouers, maar totaal gebonde aan die suurstofmasker en die wavrag dripsakke wat met gereeld maat druppels medisyne toegedien het.

Daardie aand het Suster Letitia my pad gekruis. Sy het my drie nagte opgepas, gewas, medisyne gegee en belangrike raad.

“Don’t worry about the people at home. You cannot do anything for them. I’ve had lost patients because they stressed too much about what was going on at home. That didn’t help anyone.”

Ek het besef die spesialis, fisioterapeute en verpleegpersoneel baklei om my liggaam van die Covid-19 komplikasies te red, maar ek moet Covid-19 in my kop baklei.

Die vinnigste wat ek uit die hospitaal gaan kom was om alles te doen wat hul van my vra. Sonder om te dink.

As hulle wou hê ek moes op my maag lê het ek dit gedoen. As die spesialis gevra het ek moet in die stoel sit, het ek dit gedoen.

Die balletjies geblaas soos wat die fisio gevra het.

Tydelike ongemak gaan langdurige voordele bring, het my slagspreuk geword.

Na ‘n week in die intensiewe sorgeenheid is ek geskuif na ‘n kamer in hoësorg.

Het die knellende masker uiteindelik afgekom en is dit vervang met twee wit suurstofpype.

Vier dae later is ek saal toe geskuif met ligte suurstofpypies.

Die verligting was groot toe die suurstofmasker afkom en met pype vervang is. Al moes ek steeds die blou masker dra en selfs daarmee slaap. Foto: Gerda Bruinette

In die saalkamer was ek bevry van al die monitordrade en die bloeddrukmeter se band om die arm.

Die port in my skouer wat my aan ‘n verskeidenheid van dripsakke gekoppel het, is ook uitgehaal. So ook die a-lyn wat oor my linkerpols hulle daagliks van bloed voorsien het om al die belangrikste inligting uit my bloed te kry.

Die naald in my arm is net opgekoppel wanneer ek moes medisyne kry.

Ek kon weer self sit, badkamer toe loop, die trollie nadertrek om te eet. Sonder bystand.

Daagliks is die suurstof minder gemaak, totdat ek ook self weer kon asemhaal.

Die 15de dag nadat die ambulans my by die hospitaal afgelaai het, het ek uit die hospitaal geloop. Ek het Covid-19 oorleef.

Waar het ek Covid-19 gekry? Ek het geen idee nie. Wil ook nie weet nie. Ek is dankbaar ek leef.

Was ek ingeënt? Ongelukkig nie. My ouderdomsgroep kon die week wat ek in die hospitaal beland het registreer.

Nou moet ek 30 dae wag voordat ek kan gaan. En vir daardie inenting sal ek beslis gaan.

Al is ek hoe dankbaar teenoor die personeel wat my lewe gered het, ek wil nooit weer een van hulle van die verkeerde kant van die hospitaalbed sien nie.

Ek moes Covid-19 in my kop baklei. Ek het gewen. | Vaalweekblad

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button