
Die nuwe kaptein van die NWU se Varsitybeker-span het nie universiteit toe gekom met die idee om hoëvlak rugby te speel nie.
Ruan ‘Sampie’ Swiegers is onlangs as die Varsitybeker-span se kaptein gekies. Maar Sampie se rugbyreis het eers ’n paar draaie gevat.
Die oud-leerder van Hoërskool Empangeni het in 2017 by die NWU aangekom.
“Ek het nie ’n groot beurs gehad nie en het maar vir die koshuis rugby gespeel,” verduidelik hy.
Dit is in die koshuisliga waar die NWU se voorspelerafrigter, Chaka Willemse hom raakgesien het. “Coach Chaka het my ’n kans gegee. Hy het in my geglo. Ek spot nog steeds met Coach Bert. Hy het gesê hy gaan nie eers sy tyd mors nie. Ek was daai tyd nog baie onfiks,” lag Swiegers.
Gelukkig het Willemse hard saam met Swiegers gewerk en so het hy die leer geklim tot waar hy vandag as kaptein staan.
“Ek moes baie gewig verloor. Dit was harde werk, maar dit is deel van my filosofie, ’n mens kan altyd harder werk,” sê Swiegers.
Volgens hom het Willemse ’n groot rol gespeel in sy ontwikkeling. Deur sy motivering en geloof het Swiegers ’n plek in die NWU en Luiperds o.19 spanne los gespeel.
“Coach Chaka is saam met my pa die beste afrigters wat ek nog ooit gehad het. Hy is ’n eerlike mens wat, as hy eers in jou glo, altyd by jou sal staan,” meen Swiegers.
Dit was vir Swiegers ’n groot verrassing om as kaptein aangewys te word, alhoewel hy een van die senior spelers is wat ook verlede jaar diens by die Luiperds gedoen het.
“Ek was eers nie seker dat ek reg gehoor het nie. Ek glo in myself en weet dat die leierskap posisie nie my spel sal beïnvloed nie,” spot hy.
Swiegers meen dat hy baie in sy tyd saam met die Luiperds geleer het.
“Die Varsitybeker is bietjie vinniger as die Curriebeker, maar die Curriebeker is baie meer fisies. Ek het ook by die Luiperds se kaptein, Siya Mdaka baie geleer. Veral hoe kalm hy is wanneer daar stresvolle situasies is,” verduidelik hy.
Swiegers glo dit maak nie saak wat op die veld gebeur nie, vanjaar gaan ’n goeie jaar vir die NWU wees.
“Natuurlik wil ons die beker wen, maar as ons in ons prosesse glo en dit goed kan uitvoer, gaan dit ’n goeie jaar wees,” sê hy.
Die vaskopstut van Natal wat vir die Blou Bulle skree en Richie McCaw as een van die bestes wat die spel al opgelewer het ag, wil op die einde van die dag net die trui vir die volgende speler op ’n beter plek los.