Laerskool Vyfhoek se skoolhoof, mnr. Corrie Smit, het self ingespring en dadelik die beseerde kinders probeer help tydens na Donderdag (18 Augustus) se tragiese ongeluk by sy skool toe ‘n vragmotor die lewe van vyf leerders op die skoolterrein geneem het.
Volgens Netwerk24 het Smit, wat ‘n noodhulpkursus voltooi het, self onder die vragmotor ingekruip om te sien of die drie skoolkinders wat onder die vragmotor vasgepen was, nog leef.
“Ek het onder die trok ingegaan om te voel of daar enigsins ‘n pols is, maar daar was niks nie,” het Smit aan Netwerk24 genoem.
Netwerk24 berig dat Smit in sy kantoor gesit het toe die ongeluk gebeur. Personeel van die skool wat op die terrein toesig gehou het, het die ongeluk gesien. Hulle het vir Smit geroep en hy is toe dadelik na die toneel toe.
Die skool het gisteraand ‘n boodskap op sosiale media gedeel waar hulle dank uitspreek oor die gemeenskap se barmhartigheid in hierdie moeilike tyd.
DA wyksraadslid, Anné van Onselen, noem ook dat die gemeenskap se harte warm klop om Vyfhoek Laerskool op enige wyse te ondersteun.
“Ek het gister op ‘n stadium 236 Whatsapp boodskappe gekry van mense wat wil weet hoe hulle kan help. Ek is dankbaar vir elke inwoner wat kontak gemaak het om finansiële bystand, hul professionele dienste, skenkings, aandetes, gebede en ondersteuning aan te bied vir die gesinne van die skool,” noem Van Onselen.
Volgens Van Onselen het die DA koukusleier van JB Marks, Hans-Jurie Moolman aangebied om sy praktyk se trustrekening te gebruik vir enige finansiële skenkings.
Een gesin moes ook R 21 000 vir begrafnis betaal.
“Ons wil graag die fondse tussen die vyf families verdeel vir hierdie groot uitgawe. Die ouers wie se kinders nog in die hospitaal is, benodig ook finansiële ondersteuning om vervoer te betaal sodat hul, hul kinders daagliks kan besoek.
Die vyf gesinne wat gebroke is oor hul kindertjies, het ook ander kinders. Enige iets vir die boeties/sussies om hul te help troos, is welkom,” het Van Onselen genoem
Die bankbesonderhede vir skenkings na hierdie families is as volg:
Moolman & Pienaar Inc Trust
Nedbank
Tjekrekening
Takkode: 198765
Rekeningnommer: 1497 198 305
Verwysing: Vyfhoek
Van Onselen noem ook dat aandetes vir die gesinne by haar afgelewer kan word.
Sy kan by 082 441 4412 in hierdie verband gekontak word.
Hier is ‘n skakel na die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Potchefstroom Herald:
Vyfhoek skoolhoof wou kinders red | Potchefstroom Herald