
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dit te herdenk, kyk die Herald se susterkoerant Vaalweekblad vanjaar weer terug na groot nuusgebeure wat die mense van Vereeniging diep geraak het. Hierdie is een daarvan…
Die tweeling moes mekaar onvermydelik soms die stryd in die bokskryt aansê. ‘n Vaalweekblad uit daardie jare berig dat daar ‘n baie hegte band tussen die broers was en dat hulle niks daarvan gehou het om teen mekaar te boks nie, tog het hulle nooit teruggehou nie en mekaar behoorlik gemoker wanneer hulle teen mekaar te staan moes kom.
Hoewel albei mettertyd hul eie gesinne gehad het, was daar maar altyd ‘n spesiale band wat kenmerkend tussen identiese tweelinge bestaan… tot daardie tragiese nag van 1 Januarie 2015 toe Chris se lewe wreed deur ‘n rowerkoeël beëindig is.
Chris (destyds 43) en sy gesin, wat pas van vakansie af teruggekom het, is die nag van 1 Januarie omstreeks 01:00 in hul huis in Sonlandpark, Vereeniging, deur gewapende rowers oorval. Ondanks die gesinslede se pogings om al die opdragte van die rowers uit te voer, is Chris in die bors geskiet. Hy het sowat ‘n uur gelê en bloei terwyl die rowers verskeie waardevolle artikels uit die huis gedra het en met ’n plasma-televisie, wapens, juweliersware, selfone en twee voertuie ontvlug het.
Chris se seun, Christiaan, wat sy selfoon versteek het sodat die rowers dit nie kon vat nie, het sy oom Gert se dogter dadelik nadat die rowers weg is, gebel en hulp ontbied.
“Ek het by die huis ingestorm waar ek my broer in ’n plas bloed aangetref het. Ons het met hom Midvaal-hospitaal toe gejaag. Hy het toe nog ’n baie swak pols gehad maar geen reaksie getoon nie,” het Gert agterna aan Vaalweekblad vertel. Dit was ‘n tragiese nag vir die Botes-familie toe Chris later aan sy beserings beswyk het.
Chris het by Gold Fields as veiligheidsbeampte gewerk en was ook onderkaptein van die reddingspan. Sy kollegas het destyds vertel dat Chris hulle altyd eers bymekaar geroep en gebid het voordat hulle ondergronds moes gaan vir ‘n reddingsoperasie. Die tweeling se pa, Lou, het Chris beskryf as iemand wat altyd geglimlag het. “Hy was saggeaard en vriendelik en sy Christenskap was merkwaardig.” Chris is deur twee kinders, Christiaan en Chrisna, oorleef.
Hoewel een van sy gesteelde voertuie later naby Walkerville gevind is, is dit nie bekend of die moordenaars ooit vasgetrek is nie.


Lees die oorspronklike berig op die Vaalweekblad se webwerf hier:
Moord bring wrede einde aan bokserbroers se unieke band | Vaalweekblad