‘n Kombinasie van harde werk, passie en pure doelgerigtheid het vir Braam Nel (15) ‘n graad 9-leerder na ‘n briljante silwermedalje by die Afrika-kampioenskappe in Marokko geneem.
Hierdie kranige kragopteller wat al vir die afgelope drie jaar hierdie sport beoefen, was die jongste Protea kragopteller by hierdie byeenkoms en het in die 74 kilogram-afdeling teen manne in hulle twintigs deelgeneem.
Nie dat dit hierdie Gimmie enigsins gepla het dat hy teen hardebaarde moes kompeteer nie. Hy het steeds sy staal gewys en Suid-Afrika se naam hoog gehou met ‘n totaal van 450 kilogram wat hy opgetel het.
Braam het ‘n indrukwekkende 200 kg (dead lift), 80 kg (bench press) en 170 kg (squat) behaal om met ‘n silwermedalje terug te keer Potch toe.
“Ek is baie bly oor hierdie silwermedalje. Ek geniet die intensiteit van kragoptel baie en dit het nou ‘n gesonde obsessie geword,” vertel Braam wat in Covid-19 tyd die sport begin het om ook sy fiksheid te verbeter. “‘n Mens ontmoet ook baie mense deur die sport. Die kampioenskappe was stresvol, maar ek het net besluit om nie terug te staan nie en dit vir myself te doen. Dit gaan nie oor my teenstanders en wie hulle is nie,” meen hy.
Sy ouers, Hans en Aileen, albei van Fochville, is ontsettend trots op Braam wat ‘n groot liefde vir kragoptel toon en ook in krieket uitblink. “Braam het eers onlangs by Potchefstroom Gimnasium begin en ons voel hier in Potch kan hy sy sporttalent voluit leef,” noem Hans.
Braam, wat deur Hannie Smith en Stephan Bekker afgerig word, spandeer ongeveer 10 ure per week aan oefening vir kragoptel.
“Dit is harde werk, maar die lekkerste is om daardie progressie te sien. Die belangrikste is om konstant en gefokus te bly,” sê Braam met ‘n groot glimlag op sy gesig.