Verskeie lede van die XKT Fight St skopboksklub in Carletonville het 24 September aan die Gauteng Grassroots 4 MMA kragmeting deelgeneem.
Dit is by ‘n spesiale gimnasium in die keldervloer van die Northlands winkelsentrum in Witkoppen in Randburg gehou.
Volgens hul afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, is die toernooi teen die einde van die Covid-19 pandemie begin om aan beginner-vegters die kans te gee om ondervinding in gemengde gevegskuns, alom bekend as “MMA” (mixed martial arts) op te doen.
Hoewel die afgelope kompetisie net vir deelnemers van Gauteng was, is soortgelyke kompetisies ook in ander provinsies begin.
Meer as 50 vegters van regoor Gauteng het tydens die byeenkoms kragte gemeet.






