Die elektrisiteit van mense wat op die Leeuwspruit-hoewes net buite Fochville woon, het die oggend van Dinsdag, 4 Oktober skielik afgegaan.
Volgens een van die inwoners, mnr. Leon Steenekamp, het hulle dadelik die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gekontak om hulle van die probleem in kennis te stel. Toevallig was Greenspark se krag ook dieselfde dag af.
“Ons het aanhou bel, maar niemand het uitgekom om te help nie. Toe die Greensparkers egter die middag bande begin brand, het die munisipaliteit dadelik uitgejaag om hulle te help,” het Steenekamp twee dae later gekla.
Teen die middag van Donderdag, 6 Oktober het die munisipaliteit egter steeds niks aan die probleem gedoen nie.
“Ons betaal elke maand ons rekeninge, maar hulle gee net nie om nie,” het nóg ‘n inwoner gekla. Wat die Leeuwspruiters se probleem nóg erger gemaak het, is dat hul elektrisiteit steeds drie keer per week vir byna die hele dag saam met inwoners van Greenspark s’n afgesit word omdat dié inwoners nie vir hul dienste betaal nie.
Ondanks verskeie klagtes aan die munisipaliteit én beloftes deur onder meer die burgemeester, munisipale bestuurder en plaaslike- én distriksraadslede dat iets aan dié probleem gedoen sal word, hou dit steeds aan. Op die ou einde was die hoewebewoners só raadop dat hulle teen laat Donderdagmiddag die gedraaide kabels wat tot hul elektrisiteitstekort gelei het, self gaan herstel het.
“Die werk het ons nie eers ‘n halfuur geneem nie. Al wat die munisipaliteit moes doen, wat om ‘n elektrisiën uit te stuur, dan het ons nie nodig gehad om dit self te doen nie,” het een van die inwoners gekla.
Die Herald het Dinsdag die munisipaliteit oor die probleme gevra.
“Ons is bewus van die probleem en vra verskoning dat ons nie betyds daar was om dit uit te sorteer nie,” het die munisipale woordvoerder geantwoord. Die woordvoerder sê die munisipaliteit het planne in plek om die elektrisiteitstoevoer van die hoewes van dié van Greenspark te skei, maar kon nie sê wanneer dit gaan gebeur nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.