
Die aanhoudende reënval oor die afgelope paar dae is besig om water op te stoot en kan vloedgevare inhou.
Inwoners word alreeds gemaan om nie riviere of strome te kruis nie, aangesien die water mense kan meesleur. Daar is ook ‘n gevaar dat huise wat naby aan die Mooirivier grens ook onder water kan wees, as die reën nie bedaar nie.
Die Departement van Waterwese het vandag (Sondag, 13 November) bevestig dat Klerkskraaldam, Boskopdam en Potchefstroomdam weens die hewige reënval oorloop.

Daar het 30 kubieke meter water Potchefstroom Dam vanoggend verlaat en kan ‘n groot invloed op verskeie inwoners in Potchefstroom hê.
Volgens Dr. Kobus Roux, van Potchefstroom Rampbestuur Vrywilligers, sal die afloopwater teen Maandag (14 November) laatmiddag in Potchefstroom Dam verwag word.
“Dit sal ʼn groot effek op die rivier hê deur die dorp waar dit talle plekke die walle sal oorstroom. Die publiek word gemaan om asseblief uit die rivier te bly en nie deur die water te loop nie. Die vloeitempo is bedrieglik vinnig en mag mense meesleur,” het Roux gewaarsku.
