
Terwyl die boeregemeenskap van die Vlakplaas-omgewing nog sidder na die afgelope naweek se skokkende aanval op ‘n egpaar van die gebied, soek die polisie onverpoosd na die skuldiges. Die hoewe- en plaasgebied is sowat 20 km in ‘n westelike rigting buite Vanderbijlpark.
Johan en Louise Lamprecht, onderskeidelik 75 en 74 jaar oud, is Saterdagvoormiddag deur drie rowers by hul plaashuis oorval en bloedig aangerand. Johan is in sy werkswinkel vasgemaak en onder andere met ‘n hamer en ‘n rewolwer op sy knieë en teen die kop geslaan.
Louise, wat moes toekyk hoe haar man verniel word, is later deur die rowers in die huis in geneem, waar hulle haar ook genadeloos aangerand het. Sy het op die toneel aan haar wonde beswyk.
Bure het die middag onraad vermoed omdat die egpaar se hek, wat altyd toegehou word, oopgestaan het. Die egpaar het ook nie hul selfone beantwoord nie en die bure het besluit om die polisie en ambulansdienste te kontak. Die nooddienste het kort daarna op die uiters bloedige toneel afgekom.
Johan is met ernstige beserings na die Midvaal-hospitaal geneem, maar daar kon ongelukkig niks meer vir Louise gedoen word nie. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie se forensiese afdeling en honde-eenheid was Saterdagaand tot laat in-en-om die huis om leidrade te vind. Alle moontlike inligting word opgevolg, maar tot dusver is niemand nog in verband met die aanval en moord aangekeer nie.