Local newsNews

‘n Versamelaar soos min

'n Inwoner van Carletonville se versameling van onder meer ou motors en Dinky Toys is iets besonder.

Wanneer mens in Onyx-rylaan in Carletonville verby die erf van mnr. Jan Oosthuizen en sy vrou, Annatjie, ry, kan niks jou voorberei op die skatte wat binne hul vier mure gebêre word nie.

Want sien, Oosthuizen is ‘n versamelaar soos min.

Hoewel baie inwoners al deur die jare by motorskoue van sy veteraanmotors gesien het, weet hulle nie dat hy ook onder meer ‘n kamer vol besondere klein karretjies, ou plate en platespelers en allerhande ander ou interessanthede wat met motors en vervoer te doen het, tussen dié vier mure het nie. Al die platespelers, waarvan een nóg ‘n opwenmodel soos op die ou “His Master’s Voice” plate is, werk almal nog perfek.

En dit is net in die een kamer…

Oosthuizen (74) is ‘n ou inwoner van Carletonville wat na sy skoolloopbaan by Laerskool Dagbreek en Callies as ‘n passer en draaier by die ou Western Deep Levels begin werk het.

Hy het egter reeds in 1967 sy eerste karretjie gekoop aangesien sy pa ook hierin belanggestel het.

Oosthuizen het nou reeds meer as ‘n duisend Dinky Toys, gietyster karretjies wat reeds vir dekades uiters gesog onder versamelaars is. Nege van dié karretjies is meer as 110 jaar oud aangesien dit reeds voor die Eerste Wêreldoorlog gemaak is.

Stap ‘n mens uit die Oosthuizens se huis in hul binnehof, word jy begroet deur nóg versamelaarsitems, waaronder verskeie blink gechroomde enjinroosters van veteraankarre en die hele voorkant van ‘n 1936 Chevy.
Die muur in die Oosthuizens se agterplaas, sowel as die tweede verdieping bo-op die motorhuis, is ook vol versamelaarsitems uit die motorbedryf waarvoor baie museums wat sal gee om dit in hul versamelings te hê.
Die hoogtepunt van Oosthuizen se versameling is egter die vuurwaens in sy motorhuis. Die bloedrooi afslaankap 1964 Datsun Fairlady sportmotor sal jonk en oud se hart vinnger laat klop.

Dan het hy ook nog onder meer ‘n 1934 Chev met ‘n reguit ses silinder enjin wat hy in 2014 in stukke op die plaas Jakkalsdraai opgetel en perfek gerestoureer het. Só ‘n motor is egter nie vir diegene wat reeds oor die huidige prys van petrol kla nie, aangesien dit op sowat drie en ‘n half liter petrol per kilometer loop.

Vir ‘n toegewyde versamelaar soos Oosthuizen is dít egter ‘n klein prys om te betaal om só ‘n stukkie van die geskiedenis vir die nageslag te bewaar en terselfdertyd sy passie uit te leef.

Mnr. Jan Oosthuizen met van sy meer as ‘n duisend Dinky Toys, wat elkeen ‘n versamelaarsitem in eie reg is.
Oosthuizen se bloedrooi afslaankap 1964 Datsun Fairlady sportmotor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button