Helpende Hand Motorfietsklub maak bejaardes bly
Motorfietsryers van Pretoria het ook kom help.
‘n Groep lede van die Solidariteit Helpende Hand Motorfietsklub het verlede naweek inwoners van die SAVF Fochville Aftreeoord besoek en sommer vir baie pret gesorg.
Dié helpende motorfietsryers van die Fochville- en Pretoria takke het Saterdagoggend die bejaardes by die oord met ‘n opvoering en dans bederf. Hulle het ook geskenkies vir die inwoners uitgedeel en lekker met hulle gesels. ‘n Hoogtepunt vir baie van die bejaardes was egter toe van die bejaardes op motorfietse kon saamry.
“Een tannie sê sy het nog nooit op ‘n motorfiets gery nie. Dit was regtig ‘n belewenis en só spesiaal gewees. Die inwoners het dit verskriklik geniet,” sê ‘n personeellid van die Aftreeoord, Madelein Verwey.
Volgens Verwey het die bejaardes steeds dae na die besoek hul dank betuig.
“Helpende Hand Motorfietsklub bestaan uit ‘n groep hartsmense wat hul stokperdjie – motorfietsry – en hul waardes en geloof gebruik om oor te gaan in aksie. Ons het ‘n bediening van teenwoordigheid deur op te daag om ‘n impak en ‘n verskil te maak in gemeenskappe reg oor die land. So sorg ons vir lekker lag, kuier en bederf tussen die mense om die stilte en eensaamheid te breek. Dis so kosbaar om opgewondenheid in ‘n bejaarde se oë te sien,” sê Riaan Els, die voorsitter van die Fochville-tak van die Solidariteit Helpende Hand Motorfietsklub.
Enige iemand wat by die motorfietsklub of die organisasie se aksies betrokke wil raak, kan hulle kantoor skakel by 018 771 3377.




