Dorado-manne maak geskiedenis by Billfish 15000
Hulle het die geskiedenisboeke herskryf.
‘n Span van Dorado Skibootklub het met die wenplek tydens die afgelope Billfish 15000 hengeltoernooi weggestap.
Die toernooi, wat reeds vir sowat drie dekades deur Dorado Skibootklub van Carletonville aangebied word, lok jaarliks die beste snawelvis hengelaars na die waters van Sodwana in KwaZulu-Natal. Die byeenkoms is die week van 11 tot 15 November aangebied.
‘n Span van Dorado Skibootklub, bestaande uit Jaco Hendriksz (skipper), Jannas Hendriksz, Barné Yzelle, Marko Yzelle, Pine Pienaar en Stiaan du Plooy het op die boot KitKat hul vernuf tydens die byeenkoms ten toon gestel. Hulle het altesaam ses seilvisse boot toe gebring. Dit was ‘n prestasie wat deur geen van die ander spanne geëwenaar kon word nie.
Al die visse is weer losgelaat.
“Dit was die eerste keer dat die wêreld bekende snawelvis toernooi met seilvisse gewen word aangesien marlyne meer punte tel, maar met ‘n rekord getal van ses seilvisse was die geskiedenis boeke herskryf,” vertel Jaco.
Die span se wenplek het hulle met die eerste prys van ‘n 6m EVO boot op ‘n sleepwa laat wegstap.
Die boot is toegerus met low range GPS en fishfinder toerusting ter waarde van R800 000.
Die span het ook bykans R30 000 kontant en ander pryse ter waarde van R35 000 gewen.



