Fochville se netbalspelers kook in die nuwe nuwe jaar
Hulle nooi belangstellendes uit om by die klub te kom aansluit.

Fochville Netbalklub het die afgelope naweek hul jaar op ‘n hoë noot afgeskop.
Volgens die klub se afrigter, Petro Lizemore, het hulle op 8 Februarie aan ‘n pretdag in Parys deelgeneem.
Die Panthers van Potchefstroom, Rhinos van Kroonstad, Heartrate van Hartebeesfontein asook Parys Hoërskool se eerstespan het meegeding.
Die Fochvillers het met verskeie trofeë weggestap.
Die klub was algeheel derde terwyl Andries Fouche as Speler van die Wedstryd aangewys is. Hulle is ook as die span met die beste gees gekroon. Intussen het Cailine Buckingham en Micale Brill trofeë vir uitstaande werk as skeidsregters ingepalm.
Verskeie besighede van die Fochville-omgewing het die klub geborg.
Hulle nooi ook enige mans en vrouespelers ouer as 16 jaar uit om by die klub aan te sluit.
“Ons leer jou as jy sukkel,” sê Lizemore.
Hulle oefen Maandae en Woensdae van 17:00 tot 18:45 op Laerskool Losberg in Fochville se netbalbane.
Belangstellendes kan vir Lizemore by 078 099 3878 skakel of Fochville Netbal Klub se Facebook-blad vir meer inligting besoek.