
n Oud-leerling van Laerskool Dagbreek speel deesdae professionele krieket in Engeland.
Die oud-Carletonviller James Wood was van jongs af ‘n goeie krieketspeler. Hy het reeds op agtjarige ouderdom vir Laerskool Dagbreek gespeel en is ook twee jaar as dié skool se Krieketspeler van die Jaar aangewys.
James het sy skoolloopbaan aan Potchefstroom Gimnasium voortgesit en ook op hoërskool vir die North West Dragons skolespan gespeel.
Hy het verlede jaar gematrikuleer en is dié jaar reeds hard met krieket aan die gang.
James het tot nou toe in die Premier A-liga krieket vir Reinke CC gespeel en is tans in die top 10 met meeste lopies vir dié liga. Sy hoogste telling tot dusver is 250 nie uit nie.
Sy loopbaan het egter nóg ‘n hoogtepunt bereik toe hy onlangs ‘n kontrak gekry het om professioneel vir die Greenside klub in Engeland te speel.
Hulle 2025 seisoen begin in April en James het reeds gevlieg om sy krieketloopbaan daar voort te sit.
Hy wil graag van Oktober tot April, wanneer hy ‘n aftyd het, afrigting doen om ander spelers te help.