Scorpions se rugby manne (en vroue) het groot planne
Hulle draf Saterdag teen die Wasps uit.
Hoewel hulle die afgelope naweek die knie teen hul opponente van Harlequins moes buig, is spanne van die Scorpions rugbyklub baie positief vir die liga seisoen.
Volgens die klub se bestuurder, Joe Bosch, sien hulle die wedstryde as ‘n geleentheid om te groei. Die klub glo ook aan die spreekwoord “Local is lekker”.
“Dit is vir ons so lekker om ons dorp te verteenwoordig en voor ons tuis skare uit te hardloop. Ons wil vir ons ondersteuners baie dankie sê dat hulle ons so getrou op ons tuisveld by die Gert van Rensburg stadion in Fochville ondersteun.
Hoewel dit die manne is wat op die veld draf, bestaan die klub se bestuur vanjaar net uit vroue.
Bosch is ‘n ou bekende in plaaslike rugby kringe omdat sy die Titans vir nege jaar suksesvol bestuur het. Sy was in hierdie tyd ook die voorsitter van die Carletonville Sport Forum gewees.
“Sport is my passie en ons glo sport is deel van ons gemeenskap en help ook om ons jeug besig te hou,” se Bosch.
Sy noem verder dat “Sports against drugs” ‘n slagspreuk is wat so belangrik vir die klub is dat hulle dit op hul moue wil laat aanbring.
Die ander vroue wat die klub se wiele aan die rol hou, is Ulanda Swart (sekretaresse), Zelda Roets (finansies), Karen Rautenbach (addisionele lid verantwoordelik vir sosiale media en fotografie).
Hulle draf Saterdag teen opponente van die Wasps rugbyklub op hierdie klub se velde in Edenvale uit.



