Losberg Gymnastics hou suksesvolle interne kompetisie in Fochville
Die klub beoog om 18 gimnaste vanjaar SA's toe te neem.
Jong gimnaste van die Losberg Gymnastics-klub, wat takke in Fochville en Carletonville het, het op 27 Junie aan ’n interne kompetisie deelgeneem as deel van hul voorbereiding vir die nasionale kampioenskappe later vanjaar.
Volgens klubhoof en afrigter JJ Strydom het die byeenkoms plaasgevind by die klub se oefenlokaal by die Gracepoint Kerk in Fochville, met 50 deelnemers tussen die ouderdomme van vier en 15 jaar.
“Hierdie kompetisie gee ons jong gimnaste die kans om hul roetines te toets en selfvertroue op te bou voor die SA’s,” sê Strydom. Hy voeg by dat die atlete selfs gedurende die skoolvakansie aanhou oefen om in topvorm te wees vir die nasionale kragmeting.
Die klub beoog om vanjaar 18 gimnaste na die SA’s te stuur, wat vir hulle ’n nuwe mylpaal sal wees.
Intussen beplan Losberg Gymnastics om nog ’n interne kompetisie op 19 Julie vanaf 09:00 tot 15:00 by dieselfde lokaal aan te bied. Ouders en belangstellendes is welkom om die geleentheid by te woon en meer te leer oor wat die klub vir jong atlete bied.
Vir meer inligting kan belangstellendes JJ Strydom by 081 727 8488 kontak.



