Losberg gimnaste skitter tydens interne kompetisie in Fochville
Gimnaste het hul vaardighede op verskeie apparate gewys en sommige het deurgedring na die volgende ronde in Kempton Park.
Gimnaste van die Losberg Gymnastics Klub het op Saterdag, 19 Julie, hul staal gewys tydens ’n interne kompetisie wat by die klub se perseel by Gracepoint Church in Fochville gehou is.
Volgens die klub se eienaar en hoofafrigter, JJ Strydom, is twee eksterne beoordelaars van Pretoria – een van Tuks Gimnastiek en die ander van Eldos Sterre Gimnastiekklub – vir die dag ingeroep om die verrigtinge te beoordeel.
Die dogters het meegeding op die rekstok, ongelyke brug (uneven bars), vloer en spronge, terwyl die seuns in ses afdelings deelgeneem het: die hoë balk, brug, vloer, ringe, spronge en perd (pommel horse).
“Die gimnaste het hul beste gegee en die ouers was baie ondersteunend. Die beoordelaars het ná afloop van die byeenkoms waardevolle terugvoer aan die afrigters en kinders gegee sodat hulle kan verbeter,” sê Strydom.
Verskeie van die gimnaste het deurgedring na die volgende kompetisie wat in Augustus in Kempton Park plaasvind. Dié wat nog nie gekwalifiseer het nie, het op 22 Julie nog ’n kans gekry om hul vermoë te wys.
Die klub kyk nou vooruit na die komende distrikskompetisie, gevolg deur die provinsiale en nasionale kampioenskappe waar plaaslike talent weer sal skitter.



