Talle inwoners van Fochville en omgewing het verlede Saterdag 20 September die koeler weer benut om die SAVF se spesiale pretdag by te woon — ’n dag wat vol vermaak en gemeenskapsbetrokkenheid was.
Volgens Irene Meyer, gemeenskapsverteenwoordiger van die SAVF, was die dag ’n groot sukses, ondanks die reën wat so teen 13:00 begin het.
“Dit het baie goed verloop. Daar was baie voete en die verkope was goed. Ongelukkig het die reën ons later ingehaal en almal moes oppak, maar ons is baie tevrede,” het sy gesê. Sy beklemtoon dat alle fondse wat ingesamel is, aan die SAVF se welsynswerk bestee sal word.
Die dag het vroeg afgeskop met ’n pretdraf saam met Fochville WeRun, onder leiding van Clive Wright.
“Selfs oumensies het deelgeneem. Ons was só trots op hulle,” het Meyer trots vertel.
Verder is besoekers bederf met verskeie aktiwiteite soos ’n hondeskou, musiekoptredes, ou motorskoue, en ’n verskeidenheid stalletjies.
Onder die stalletjies was drie wat deur Lynette Eybers, bestuurder van die plaaslike ouetehuis, beman is ten bate van die SAVF. Die DA het ook ’n stalletjie gehad waar wykraadslede Lindy Maritz en Charl Steenekamp met inwoners oor die watertekort in die area gesels het. Avbob was ook teenwoordig met hul eie stalletjie.
“Die gees was uitstekend,” sê Meyer, en voeg by dat die SAVF reeds beplan om weer so ’n dag in die toekoms aan te bied.



