Carletonville se vroue brei 154 borsprosteses vir kankerpasiënte
Die inisiatief, deel van Helpende Hand se Boesemvriendin-projek in samewerking met Kansa, bied nie net fisiese ondersteuning aan pasiënte nie, maar bring ook gemeenskappe nader aan mekaar.
Verskeie vroue van die Carletonville-area het hand bygesit om altesaam 154 borsprosteses vir vroue met borskanker te maak.
Helpende Hand het die Boesemvriendin-projek, in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) van stapel gestuur om vroue met borskanker te ondersteun. Die projek vorm deel van Helpende Hand se jaarlikse Breinaald-projek wat mense se liefde vir brei en hekel aanwend om ‘n tasbare verskil in hul gemeenskappe te maak.
Die gebreide of gehekelde borsprosteses is vir vroue wat ‘n bors of hul borste weens borskanker verloor het. Die opstopsel is 100% egte Merino wol en die brei of hekelwerk van 100% katoen.
Hierdie materiaal is aan die plaaslike vroue wat deel van die projek wou wees, voorsien.
Baie vroue werk saam
Verskeie vroue, waaronder lede van die Babbel en Brei-groep en Klub 50 het hand bygesit. Die 87 pare prostese is Dinsdag aan Mariëtte Hartley, Helpende Hand se maatskaplike werker by Help my Krap in Carletonville oorhandig.
“Ek is opgewonde oor wat die vroue vermag het. Hulle het almal vertel hoe dit hul saamgesnoer het en hoe baie hulle dit geniet het om deel van ‘n nasionale projek te wees – asook hoe sommige van hulle losgetrek het,” sê Hartley.
Sy sê die projek het ten doel om bewustheid van borskanker te verhoog en om gemeenskappe, veral bejaardes, by betekenisvolle, ondersteunende handwerk te betrek. Hartley het later die week die Wes-Rand en Vaaldriehoek se prosteses aan Kansa ter ondersteuning van borskankerbewustheidsmaand oorhandig.



