Local newsNews

Hs Driehoek: 2019 se graad 8’s ‘n besondere groep matrieks

Dié matriekgroep weet van saamstaan. Hulle is die laaste groep wat die brugramp by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark beleef het.

Soos Marzhaan Seyffert, een van die lede van die matriekraad, bevestig:
“Hierdie is ons eerste normale hoërskooljaar.”

Marzhaan Seyffert. Foto: Gerda Bruinette

‘n Mens sou kon dink die groep sou gaan lê het. Niemand sou hul regtig kwalik neem nie, maar inteendeel.

Hulle het opgestaan, saamgestaan en voortgegaan. Hul leef volgens die motto: “Beleef en oorleef.”

Marzhaan onthou die maande na die brugramp. Hoe hulle in tente skoolgegaan het.

“Dit het baie gereën. Die onderwyseresse het later kaalvoet of met waterstewels (gumboots) skoolgehou.

“Ons het van die begin af besluit om dit vir onsself beter en lekker te maak.”

Haar ma, Marita, stem saam. “Ek het veral aan die begin van die skoolgaan in die tente elke dag verwag sy gaan in trane by die huis kom.

Maar, sy het nie eenkeer gekla nie. Net so ‘n paar keer die modder van haar boeke afgevee en aangegaan.”

Met ‘n moeilike 2019 agter die rug, het 2020 hul onverwags gevang. Die Covid-pandemie het die groep se graad 9, 10 en ‘n groot gedeelte van graad 11 ingesluk.

Die maskers, die elke tweede dag skool toe gaan. Die verbod op atletiekbywoning. Steeds het hul voortgebeur, saamgestaan en mekaar gedra.

“Ons is een groot familie,” verklaar Marzhaan. “Dis wat ons die graad aggies geleer het, om saam te staan. Alles as ‘n eenheid te doen.”

Marzhaan sê die brugramp sal altyd vir hulle ‘n sensitiewe saak bly. Hulle praat nooit daaroor nie, behalwe op 1 Februarie.

“Kan jy glo? Daar is ander skole wat ons spot daaroor. By sportbyeenkomste sal hulle ons die brugskoolkinders noem. Maar hulle sal nooit verstaan nie, as jy dit nie self beleef het nie. Jy kan dit nie vir iemand anders verduidelik nie.”

Lize Kriel en haar hond, Stella. Foto: Letitia Kriel

Nog ‘n matriekleerling van Driehoek, Lize Kriel, stem saam. “Ons groep het ‘n ander band as die ander grade, want ons het unieke ervarings gedeel.”

Sy onthou ook die skooltentdae en hoe hul alles in ‘n avontuur omskep het.
“Ons is ‘n baie sterk groep. Ons besluit alles saam en doen alles saam,” vertel sy rustig.

1 Februarie was ook vir haar ‘n emo­sionele oggend, maar sy voel tog hierdie jaar was anders.

“Dit voel soos die einde van ‘n hoofstuk. Ons is die laaste leerlinge wat self die brugramp deurgemaak het.”

Lize reken die tragedie, die skooltentdae en selfs die deurmekaar Covid-tyd het hul gedwing om aanpasbaar te wees. “Ek sal nooit vergeet hoe almal saamgestaan en ons ondersteun het nie.”

Vir hul onderwysers en hul skoolhoof, mnr. Ricardo Erasmus, is hul baie dankbaar oor die manier waarop alles hanteer is, hul positiewe gesindheid en hoe hulle altyd probeer het om dinge vir hulle lekker te maak.

Lize is deel van die skoolkoor en sy onthou hoe hul koor in 2019 deel was van ‘n Sing in Harmonie opname.

“Daar was ‘n skool in rooi geklee. Ek kan nie die skool se naam onthou nie, maar hulle het ‘n spesiale lied aan Driehoek opgedra, sonder dat hul geweet het ons sou daar wees. Dit was hoendervleis mooi.”

Dis duidelik die 2023 matriekgroep deel ‘n besondere band. Die lewe het hul op ‘n jong ouderdom geleer om saam te staan en met veerkrag regop te kom, maak nie saak hoe sterk die stormwind is nie.

Hs Driehoek: 2019 se graad 8’s ‘n besondere groep matrieks

Related Articles

Back to top button