Gauteng-misdaadsyfer skiet die hoogte in
Ernstige misdaad in Gauteng is besig om buitegewone afmetings aan te neem en drastiese optrede is nodig!

Kobus Hoffman, VF Plus-LPW: Gauteng het in ‘n mediaverklaring gesê indien daar nie nou drasties opgetree word nie, sal die provinsie in ʼn misdaadnes ontaard.
Die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, het Gauteng se misdaadsyfers vir die laaste kwartaal (April tot Junie) gister (29 Augustus) aangekondig.
ʼn Totaal van 21 misdrywe wat as ernstige misdaad in die verslag beskryf word, het met 4.0% vanaf die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gestyg.
In dié kwartaal is 103 644 gevalle aangemeld terwyl in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar 99 622 gevalle aangemeld is. Die syfer maak 27,9% van die totale ernstige misdaadsyfer in die land uit.
Wes-Rand 6 814
Ekurhuleni 24 490
Johannesburg 38 456
Sedibeng 6 068
Tshwane 27 611

Johannesburg-sentraal-polisiekantoor se aanmeldsyfer van ernstige misdaad het met 9,7% gestyg gevolg deur die Roodepoort-polisiekantoor met ʼn toename van 4,7%.
Die VF Plus is ook bekommerd oor die poging tot moord-syfer wat met 7,2% gestyg het. Vanaf April tot Junie is 1 537 voorvalle aangemeld en verlede jaar in die ooreenstemmende tydperk 1 434.
Huisbraak het ook die hoogte ingeskiet met ʼn styging van 13,7%. ʼn Totaal van 2 058 voorvalle is gedurende die kwartaal by polisiekantore in Gauteng aangemeld.
Die meeste sake word deur die Tembisa-polisiekantoor ondersoek. Dit is op twee na die hoogste in die land.
Ontvoering in Gauteng het met 8,3% gestyg (2 068). In 90% van die gevalle was ʼn losprys betrokke en die res was afpersing en mensehandel.
Die VF Plus het reeds verskeie kere die Gautengse polisiekommissaris gewaarsku dat die misdaadsyfer alleenlik sal daal wanneer polisiekantore van genoeg hulpbronne voorsien word om polisielede in staat te stel om hul werk suksesvol af te handel.
By baie polisiekantore is daar nie genoeg voertuie, wapens en selfs skryfbehoeftes nie. Polisiebeamptes moet in baie gevalle hul eie skryfbehoeftes koop en ure wag tot ʼn motor beskikbaar is om sake te ondersoek.