Merafong erken uiteindelik die rede vir ons waterprobleme
Dit was wat ons almal vermoed het - Merafong se wanbetaling.

Hoewel die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit en Rand Water dit vroeër ontken het, het die munisipale bestuurder Dumisani Mabuza kort vantevore erken dat ons watertoevoer drasties as gevolg van die munisipaliteit se wanbetaling ingeperk is.
Die munisipaliteit het hiermee prakties die inhoud van boodskappe wat vroeër vanoggend rondgestuur is, erken.
Ons watertoevoer is tans met 70% gesny, wat beteken dat Merafong net 30% van ons gewone watertoevoer het.
Mabuza sê die munispaliteit het vandag R10 miljoen en verlede week R17 miljoen van hul maandelikse uitstaande rekening betaal.
Indien Merafong nie hulle huidige uitstaande rekening betaal nie, sal dit beteken dat die munisipaliteit Rand Water meer as ‘n miljard rand (‘n duisend miljoen rand, in Engels ‘n ‘billion’ rand) skuld.
Die munisipaliteit het tot nou toe geweier om vrae van die Herald oor die probleem te antwoord.
Rand Water se woordvoerder Pride Mguli het vanoggend nog volgehou dat ons watertoevoer as gevolg van “weerstoestande” ingeperk is.