Bekende sakeman sterf oor feestyd
Van Niekerk het diep spore in ons gemeenskap getrap.

Een van Carletonville se bekendste sakemanne is die afgelope feestyd oorlede.
Piet van Niekerk is op 20 Desember aan kanker oorlede.
Volgens sy seun, Willie, was sy pa, wat op 27 Februarie 1958 gebore is, reeds vir 60 jaar ‘n inwoner van Carletonville.
“Almal het hom geken. In besigheid het hy floreer, van behuising tot grondverskuiwing en konstruksie, boer en vervoer. Hy het van jongs af alles probeer en was nie bang om risikos te neem nie,” sê Willie.
Ondanks dít was wyle Piet van Niekerk bekend daarvoor dat hy baie mense gehelp het.
“Hy was ‘n groot man met ‘n nog groter hart vir mense en het ‘n groot sagte plek gehad vir mense wat swaarkry. Hy was altyd bereid om te help waar hy kon. Mense kon hom enige tyd bel en iets vra en hy het altyd geweet wat om te doen of na wie toe om te gaan,” sê Willie.
“Hy was ‘n streng maar regverdige man. Sy familie was sy alles. Hy wou hulle net altyd om hom gehad het. Sy algemene kennis oor bome, diere, voëls en die bos was uitstekend en dit het hom bekoor. Hy het ‘n groot liefde vir die natuur gehad.”
Wyle Piet van Niekerk laat sy vrou, Celeste, sy seuns Willie, Kobus en Pieter, skoondogters Michelle, Dionie en Martine and sewe kleinkinders agter.