Local newsNews

Boer oorleef plaasaanval, sterk aan in hospitaal

Die voorval het baie mense geskok.

‘n Boer van ‘n plaas tussen Fochville en Glenharvie was teen druktyd steeds in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg na rowers hom vroeg Sondagoggend geskiet het.

Volgens Jaco Taute, die voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie en lid van die Gauteng TLU se sentrale komitee verantwoordelik vir veiligheid, het sy buurman, Adriaan Vos, hom omstreeks 01:00 gebel. “Boeta, ek het seer. Hulle het my geskiet,” het hy vir Taute gesê.

Vos (55), wat op die plaas Elandsfontein sowat 2km buite Glenharvie boer, het wakker geword van sy honde wat blaf en op sy balkon gaan staan om uit te kyk toe die aanvallers hom in die been skiet. Hy kon gelukkig tot by sy bakkie kom om na die Tautes te vlug. Die aanvallers het egter verder op hom geskiet terwyl hy in die bakkie by sy hek was.

Die Tautes het Vos, wat ten minste drie keer in onder meer sy arm en been geskiet is, se wonde verbind en ‘n ambulans ontbied, wat hom omstreeks 03:00 kom haal het. Hy is eers na die Leratong-hospitaal geneem en van daar na die Helen Joseph-hospitaal oorgeplaas. Die rowers het Vos se houthuis tot op die grond afgebrand. Vos se voëls het ook in die slag gebly. “Hoewel ons aanvanklik gedink het sy twee hondjies is ook dood, het ons hulle later gekry,” vertel Taute. Vos woon alleen op die plaas en boer met boerbokke. Volgens Taute word boere in dié omgewing toenemend deur veediewe en rowers geteiken en maak die polisie nie vordering om hierdie misdade te keer nie. Hy raai boere aan om ekstra veiligheidsmaatreëls by hul plase in plek te kry en indien moontlik wettige vuurwapens aan te skaf. “Elke plaas verskil en boere moet self kyk wat hulle nodig het,” maan Taute.

Enige iemand wat met bakstene kan help om Vos se huis te help herbou, kan Taute by 082 635 2424 skakel. Die polisie op Westonaria ondersoek sake van poging tot moord en brandstigting na aanleiding van die voorval.

“Ek is net dankbaar, maar daar is soveel vrae wat ek vra. Hoekom my huis afbrand en my diere uitbrand en sulke dinge? Ek het niemand niks gedoen nie. Daar is niks oor nie,” het Vos Sondagaand uit sy hospitaalbed gesê.

Hy het ook sy dank uitgespreek vir almal wat gehelp het, maar in besonder die Tautes.

“Mense, kyk, glo vir my – hierdie mense wag vir ons,” het hy bygevoeg.

Adriaan se dogter, Landi, het Dinsdag met die Herald gepraat.

“My pa se toestand is stabiel, maar hy is moeg en nog in baie pyn. Hy is eergister aand na ‘n saal geskuif. Sy suurstof vlakke begin beter lyk en die dokters kyk nog hoe hulle die koeël wat in sy rug is, gaan uithaal. ‘n Ortopeed moet ook nog na sy knieg kyk,” het sy dogter vertel.

Aangesien Adriaan al sy besittings in die brand verloor het, het die familie ‘n Back-a-Buddy-blad gestig om vir hom noodsaaklikhede soos klere in te samel. Diegene wat wil help, kan die skakel volg https://www.backabuddy.co.za/campaign/vossie-farm-attack.

Hoewel Adriaan se plaas net buite die Fochville-omgewing is, vermoed verskeie inwoners dat dieselfde misdadigers wat die afgelope tyd by groot veediefstalle in die omgewing betrokke was, met hierdie aanval verbind kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button