Skopboksers van Carletonville nasionale wenners
Hul prestasies volg op baie harde werk.
Verskeie skopboksers van die Fight St XKT Skopboksklub in Carletonville het medaljes tydens dié sport se nasionale kampioenskap ingepalm.
Die nasionale kompetisie is van 26 tot 29 April in Newcastle in KwaZulu-Natal gehou. Vegters het egter reeds op 25 April begin inweeg.
Volgens die klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, het meer as 800 vegters tydens die byeenkoms kragte gemeet. “Die standaard was baie hoog en almal moes hard werk vir plekke,” vertel Van Winkel.
Verskeie afrigters, vegters en ouers van die skopboksklubs in Carletonville en Fochville het ook tydens die byeenkoms as beoordelaars opgetree.
Vegters wat trofeë verower het, wag tans om te hoor of hulle vir die nasionale of presidentspan gekies gaan word.
Dié spanne gaan later vanjaar aan ‘n internasionale kragmeting teen Uzbekistan deelneem.
Intussen gaan twee van die klub se ster vegters reeds weer die komende naweek aan kragmetings deelneem.
Charmaine Venter gaan aan die K1 Pro Amp skopboks kompetisie by die Barnyard in Vereeniging veg terwyl Patrick Steyn tydens die Grassroots MMA kompetisie in Roodepoort gaan meeding.



