Carletonvillers presteer tydens Union Knights wedstryd
Hulle is van die sterre in hul span.
Verskeie rugbyspelers van Carletonville het tydens verlede naweek se ligawedstryde van die Union Knights se spanne hul staal gewys.
Volgens die bestuurder van die klub, Sunel Kotze, het hulle uitstekend in hul wedstryde teen Roodepoort gevaar.
“Ons het teen die sterkste span in ons liga gespeel en die spelers het my verbaas,” het Kotze gesê.
Drie van die Carletonvillers wat deel van die eerste span is, het punte aangeteken.
Lisa Morali het die eerste drie aangeteken terwyl Khaya Diyo twee drieë gedruk het en ook as Speler van die Wedstryd aangewys is. Die span se kaptein, Simon Molusi, het die wedstryd se finale punte aangeteken. Die Union Knights se eerste span het Roodepoort 52–33 gewen terwyl die tweede span Roodepoort ook met 35–5 geklop het.
Die o21’s het Roodepoort met ‘n reuse telling van 52-6 die stof laat byt.
Ongelukkig moes die o19 span die knie teen Roodepoort buig met ‘n telling van 10–16.
Carletonvillers wat deel van die Union Knights is, oefen Dinsdae en Donderdae van 17:00 tot 19:00 op Hoërskool Wonderfontein se gronde.
Diegene wat belangstel om by dié Carletonville groep aan te sluit, kan Kotze skakel by 078 399 6347.



