Veteraan-rugby bring pret en nostalgie na Fochville
Spanne van Gauteng en Parys het deelgeneem.
’n Groot skare het Saterdag na die Gert van Rensburg-stadion in Fochville gestroom vir die Golden Eagles Rugbyfees, wat ’n dag van aksie, kameraderie en nostalgie vir veteraan-rugbyliefhebbers gebied het.
Die dag is afgeskop met ’n gewilde “Kaas-en-wyn”-wedstryd vir spelers ouer as 50. Daarna het spanne van regoor Gauteng en selfs Parys op die veld gekom. Van die kleurryke spanname het reeds die gees van veteraan-rugby verklap — met spanne soos die Hill Billies, TWR Alberton, Barbarians, Tendellas, Bald Eagles, Western Lions, Old Bears en natuurlik die Golden Eagles self.
Volgens organiseerder Pierrie Theron (64), ’n trotse Fochviller en jarelange rugbyspeler, word sulke veteraan-rugbyfeeste maandeliks gehou, maar dié was die eerste van sy soort in Fochville. Behalwe vir die rugby was daar ook meer as 20 stalletjies wat bydra tot die feesatmosfeer.
“Ek het rugby in my are, en die spel hou my jonk,” sê Theron, wie se bynaam op die veld Bumper is. “Ek wil speel tot ek 80 is!”
Veterane-rugby volg effens aangepaste reëls om veiligheid vir ouer spelers te verseker. Jonger spelers (onder 35) mag wel speel, maar word beperk in bewegings soos vinnige hardloop. Skrums en lynstane is ook vereenvoudig, en formele punte word nie bygehou nie — maar die spel vereis steeds fiksheid en goeie spelkennis.
Die hoogtepunt van die jaar is die nasionale veteraan-rugbykompetisie in Mosselbaai, wat einde September plaasvind. 42 spanne word verwag om deel te neem.
Theron sê besoekers het die Fochville-toernooi as een van die beste nog beskryf.
“Die veld was bietjie hard, so ’n paar manne het lekker ‘grass burns’ gekry,” lag hy.
Sluit aan by die veteraan-rugbyspan
Plaaslike spelers wat belangstel om by veteraan-rugby in Fochville betrokke te raak, kan Pierrie Theron kontak by 083 625 4437.



