Fochville Scorpions se o.19-span blink uit teen Germiston Simmers
Die Scorpions speel die komende naweek weg teen Roodepoort.
Die Fochville Scorpions Rugbyklub het Saterdag hul kragte gemeet teen die Germiston Simmers in ‘n reeks opwindende wedstryde op hul tuisveld, die Gert van Rensburg-stadion. Die pawiljoene was volgepak met lojale ondersteuners wat hul spanne met geesdrif aangemoedig het.
Die hoogtepunt van die dag was die o.19-span van die Scorpions, wat met ‘n indrukwekkende telling van 17–0 teen hul opponente geseëvier het. Die jong spelers het uitstekende spel gewys en hul teenstanders met vinnige bewegings en ferm verdediging oorrompel.
Ongelukkig het die ander Scorpions-spanne nie dieselfde sukses behaal nie. Die o.21-span, tweede span, en eerste span moes onderskeidelik met 0–34, 0–35, en 10–59 die knie buig teen ’n sterk Simmers-groep.
Volgens Joe Bosch, klubbestuurder van die Scorpions, is daar egter steeds baie positiefs om uit die dag te neem. “Ons o.19’s het regtig goed gespeel. Ons spanne werk hard, raak al fikser en leer elke week iets nuuts op die veld,” het Bosch gesê.
Die Scorpions berei hulle nou voor vir hul volgende wedstryde teen Roodepoort, wat die komende naweek in Roodepoort plaasvind.



