Scorpions Rugbyklub speel ligawedstryde in Carletonville ná diefstal by tuisveld
Kom ondersteun jou span!
Die Scorpions Rugbyklub sal hierdie Saterdag, 7 Junie, op die veld draf in verskeie ligawedstryde wat by Hoërskool Carletonville aangebied sal word. Die wedstryde begin om 13:00, met die eerste span se kragmeting wat om 16:00 afskop.
Volgens klubbestuurder Joe Bosch moes daar vinnig plan gemaak word toe hul oorspronklike tuisveld, die Gert van Rensburg-stadion in Fochville, onbruikbaar geword het ná ‘n inbraak waarin alle krane gesteel is.
“Die mense teen wie ons speel – van Edenvale – het nie hul eie fasiliteite nie en het gevra of hulle by ons kan speel,” sê Bosch. “Maar toe moes ons self ‘n nuwe plek kry ná die diefstal.”
Gelukkig het Hoërskool Carletonville vinnig hulp aangebied deur hul rugbyveld beskikbaar te stel. Die klub het hul waardering uitgespreek en nooi alle belangstellendes uit om die spanne te kom ondersteun.



