Winter Knights projek van Carletonville Round Table bring warmte en liefde vir kinders
Daar is warmte, liefde en bederf gedeel.
Die Carletonville Round Table het hul Winter Knights-projek op ‘n hartroerende manier afgesluit met ‘n spesiale funksie by die SAVF se Deurgangshuis op die aand van 10 Julie.
Lede van die Round Table en ander vrywilligers het die kinders en ander behoeftiges verras tydens spesiale ‘n aand. Volgens die klub se voorsitter, Shaun van der Merwe, was die besoek daarop gemik om warmte – in die vorm van klere, kos en liefde – te bring aan die jong inwoners.
“Wat ’n ongelooflike sukses! Die aand was gevul met pret en lag. Mense het hul tyd afgestaan om saam met die kinders te speel, hulle bietjie te bederf en belangriker nog, om warmte en liefde uit te deel,” het Van der Merwe gesê.
Hierdie geleentheid was die laaste in ‘n reeks winter-uitreike wat die Round Table vanjaar aangepak het. Gedurende die wintermaande het hulle kos, warm klere en ondersteuning aan behoeftige kinders en bejaardes in die gemeenskap verskaf.
Van der Merwe het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor elkeen wat betrokke was:
“Ek wil graag elke borg, elke helpende hand en elke ondersteuner uit die diepte van my hart bedank. Julle betrokkenheid het hierdie projek moontlik gemaak. Sonder julle sou dit nie moontlik wees nie.”
Die Winter Knights-projek is ‘n jaarlikse inisiatief wat daarop gemik is om die mees kwesbare lede van die gemeenskap deur die koue seisoen te help. Hierdie laaste aand het gewys dat omgee steeds lewend is in Carletonville – en dat klein gebare ‘n groot verskil maak.



