Fight St MMA-klub se jong vegters blink uit tydens Grassroots 6 kragmeting in Roodepoort
Hulle het teen vegters van Gauteng, Durban en die Oos-Kaap meegeding.
’n Span jong MMA (gemengde gevegkuns) vegters van die Fight St MMA-klub in Carletonville het op 4 Oktober uitblink tydens die Grassroots 6 kragmeting in Roodepoort. Die kompetisie het sowat 50 vegters van regoor Gauteng, sowel as Durban en die Oos-Kaap, bymekaar gebring.
Volgens die afrigter van die groep, Shihan Chimmy van Winkel, is die doel van die toernooi om jong vegters te ontwikkel en hulle ’n beter begrip van die sport te gee:
“Hierdie geleentheid word aangebied deur ’n groep afrigters van Gauteng om jong vegters te ontwikkel en hulle te laat verstaan waaroor die sport gaan.”
Die deelnemende vegters was tussen 10 en 17 jaar oud en kon meeding in verskeie ouderdoms- en gewigsklasse. Daar was ook aparte junior- en seniorafdelings vir vegters van 18 tot 21 jaar.



