Carletonville Fight St MMA-vegters wen medaljes by nasionale kampioenskap
Gauteng-span, met plaaslike vegters in hul geledere, blink uit tydens die nasionale MMA-kampioenskap in Vanderbijlpark.
Verskeie vegters van die plaaslike Fight St gemengde gevegkuns (MMA) klub het onlangs uitstekend gevaar en medaljes tydens dié sport se nasionale kampionskap ingepalm.
Die gesogte byeenkoms is van 30 April tot 3 Mei in Vanderbijlpark aangebied. Dit het jeug tot senior vegters van regoor die land gelok wat sake op die mat uitgespook het.
Volgens die klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, het die Gauteng-span, waarvan die plaaslike vegters deel was, uitstekend gevaar. Teen druktyd was dit nog nie seker of die Gauteng-span óf KwaZulu-Natal uiteindelik die meeste medaljes ingepalm het nie.
Van Winkel het groot lof vir sy vegters uitgespreek: “Ek is baie tevrede. Hulle het baie hard gewerk.”
Hy voeg by dat MMA steeds een van die sportsoorte is wat die vinnigste wêreldwyd groei. Vir hom gaan dit egter oor baie meer as net die fisieke aspek van die sport.
“Dit bou karakter en leer die vegters dissipline wat hulle ook in die res van hul lewens kan toepas. Dit leer hulle ook om deurlopend hard te werk. Die vaardighede wat jy in MMA leer, kan jy in die res van jou lewe toepas,” het ‘n trotse Van Winkel afgesluit.



