BlogsOpinions

Probleme sal maar vir ‘n tyd met ons wees

Wysneus hoop dié week se verkiesing gaan op een of ander wyse verseker dat dinge hier by ons beter begin gaan.

Wysneus hoop dié week se verkiesing gaan op een of ander wyse verseker dat dinge hier by ons beter begin gaan. Teen die tyd dat Wysneus besig was om dié rubriek neer te pen, was niemand nog seker wat met die verkiesing sou gebeur nie. Wysneus self
se kop het al van al die dinge wat met die verkiesing verband hou,begin draai. Wanneer dit nie beskuldigings was dat watter partye waar ook al aan bewind was se diens nie goed genoeg was nie, was dit beloftes dat wie ook al sou seker maak dat alles na die verkiesing wonderbaarlik regkom indien almal net vir hulle sou stem. Al die kleure van die verkiesings-plakkate was ook genoeg om die wakkerste verkleurmannetjie ‘n kopseer te gee. Al die groen, blou, rooi en wat ookal nog het arme Wysneus se kop later laat draai, en hy is seker van die lesers s’n ook. Iets waaroor Wysneus wel seker is, is dat wie ookal na die verkiesing aan bewind kom, nie die probleme hier by ons sommer oornag sal kan oplos nie. Wysneus het juis die afgelope week weer verskeie goed gesien wat hom vies gemaak het. Hoewel Wysneus opgemerk het dat daar die afgelope tyd al meer individuele verkeersligte is wat hier en daar buite werking, het hy hierdie week ‘n belangrike een gesien wat nou vir dae buite werking is. Van die vorige ligte was so ‘n dag of wat af, en het dan weer aangekom. Al vier die verkeersligte op die kruising van Annan-rylaan en Kaolinstraat is egter reeds vir die grootste deel van die afgelope week buite werking. Behalwe dat dit ‘n probleem vir inwoners is wat gereeld deur dié besige kruising moet ry, word besoekers aan ons dorp ook regstreeks geraak omdat baie van hulle Annan gebruik om deur die dorp te kom. Hoe is dit dat die ligte net ‘n probleem vir inwoners is en dat niemand van die munisipaliteit, wie se mense verseker ook daardeur geraak moet word, so gepla word dat hulle iets daaraan wil doen nie? Om dinge erger te maak, het al wat ‘n politieke party is ook plakkate in die omgewing van die stukkende ligte op. Hoe is dit dat niemand nog aandag aan die probleem gegee het nie? Intussen het ‘n kollega van Wysneus die afgelope week ‘n paar benoude oomblikke gehad toe sy in Langstraat in Carletonville gery het. Sy kom maar min in die gebied en die laaste keer toe sy daar was, was die pad nog in ‘n redelik skaflike toestand. Toe sy egter die afgelope week daar deurgery het, moes sy vinnig rem aanslaan sodat sy nie haar motortjie op die reuse slaggate naby die omgewing van Andriesstraat beskadig nie. Daar is soveel van dié diep gate reg in die middel van die pad dat mens bykans op die sypaadjie moet ry om nie jou motor te beskadig nie. Hoewel Wysneus se kollega ‘n bakkie of water gesien het wat hul pad deur die gate kon vind, moes ander bestuurders maar vinnig rem aanslaan. Maak nie saak wat die politici sê nie, sulke probleme gaan ‘n tydjie neem om uit te sorteer.

Related Articles

Back to top button