Fochville Rugbyklub het 2017 met ‘n nuwe bestuur afgeskop en het reeds groot planne vir die jaar.
Die klub se nuwe voorsitter, George Muller en ondervoorsitter Julian Dawson is reg om die klub vanjaar groot dinge te laat bereik.
Die klub se spelers oefen reeds elke Dinsdag en Donderdag van 18:00 tot 20:00 en sal einde Februarie met proewe begin.
“Na afloop van ons vergadering met die Luiperd Rugby-unie gaan Fochville weer in die A-liga speel waar ons ‘n eerste- en tweede span ingeskryf het. Daar is ook van die kan van die unie ‘n groot aanvraag vir ‘n vroue rugbyspan,” het Dawson dié week aan die Herald vertel.
Hoewel die liga eers in April begin, het die klub ook reeds vriendskaplike wedstryde met spanne van Vanderbijlpark, die Gevangenisdiens en Parys gereël.
“Vir ons toeskouers wat ons so lojaal ondersteun, is ons hard besig om met die Luiperd Rugby-unie te onderhandel om een Curriebekerwedstryd op Fochville se tuisveld aan te bied,” sê hy.
“Ons wil by voorbaat baie dankie sê vir al die borge, ondersteuners en natuurlik al die spelers wat 2016 moontlik gemaak het. Ons is maar nog ‘n jong klub wat glo dat ons ‘n verskil kan maak, nie net vir die spelers nie, maar ook in ons gemeenskap.
“Fochville Rugbyklub se bestuur is ook baie opgewonde oor die nuwe jaar en uitdagings wat vir ons voorlê, asook die voorreg om rugby vir en in ons dorp
te kan speel.
Mans en vroue wat belangstel om te speel, is welkom om by ons aan te sluit op die dae wat ons oefen,” het Dawson bygevoeg.
Enigeen met navrae oor spelers of borge is welkom om vir George Muller by 082 788 7643 te skakel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.