
Die afgelope naweek se baie koue en nat weer het Callies se rugbyspanne min gepla toe hulle Alberton High op laasgenoemde se tuisveld aangedurf het en drie uit die vyf spanne van Hoërskool Carletonville het met die louere weggestap.
Callies se o.14 span wen oortuigend met ‘n telling van 29-0 en druk vyf baie mooi drieë, onder andere deur Ashley Tancel en Jeffey Barnard, twee seuns wat regtig dopgehou kan word en wat uitmuntende rugby speel.
Die o.16 span van mnr. Chris Lewis, afrigter, het na ‘n baie taai wedstryd met 7-0 gewen.
“Dit was tot dusver ons taaiste wedstryd en die reën en koue het dit glad nie maklik gemaak vir die span nie, maar deur karakter te wys en alles op die spel te plaas, kon die seuns die wedstryd wen.” Callies se eerste span het die nat velde en baie koue weer gevat in die laaste wedstryd van die dag en het weer eens gewys dat hulle ‘n span
is wat nie met kaal hande aangedurf moet word nie. Hulle wen die wedstryd met ‘n telling van 17-12.
“Hoewel die telling nie baie verskil nie, het die seuns weer eens hul bes gelewer
en ons kan net baie dankie sê vir elke speler se toewyding. Die kameraadskap onder die spelers is die beste wat ek in jare gesien het,” het mnre. Botha en Maartens, afrigters van die span, gesê.
Callies speel komende Saterdag teen Queens High op hulle velde en dit gaan ‘n baie taai wedstryd vir al die spanne wees. Ons wens hulle alle sterkte toe.