
Hoërskool Carletonville het drie rugbyspanne wat die komende naweek sake gaan uitspook vir ‘n plek in die finaal van die Goue Leeus Rugby Unie se liga vir middelskole.
“Saterdag beloof om weer goeie rugby op te lewer. Dit is semi-finale wedstryde en elke speler en afrigter gaan diep grawe om net die beste op te lewer,” het mnr. SP Botha, Callies se sportorganiseerder en mede-afrigter van die eerstespan gesê.
Hoërskole wat Callies die naweek besoek is Allen Glen, Edenvale, Queens High en Afrikaans Hoër Sasolburg.
Callies se o.14 span,wat net een wedstryd die liga verloor het en wat eerste geëindig het op die log, speel die eerste wedstryd om 08:00 op die A-veld. Hul sal teen Allen Glen te staan kom. Die o.15 spanne van Edenvale en Allen Glen draf op die veld om 09:00 en om 10:00 die o.16 spanne van Queens High en AHS. Callies se o.16 span moet ongelukkig weg speel en moet Hoërskool Goudrif gaan trotseer op Queens
High se velde om 10:00. Callies se eerstespan, wat ook net een wedstryd verloor
het in die liga, kom te staan teen die span van Allen Glen om 11:15. Dit sal ook dan die hoofwedstryd van die dag wees.
“Dit is voorwaar ‘n prestasie om drie spanne te hê wat deurgedring het tot in die semi-finaal en ons wil elke speler en afrigter net die beste toewens vir die komende naweek,” het mnr. Botha genoem.
Callies ontvang ook Donderdag 29 Junie die Hoër Volkskool Graaff-Reinette se eerste hokkie-, netbal- en rugbyspanne vir vriendskaplike wedstryde.